Waak Teen al Satan se Vervalsings

Prof. Johan Malan

Waarom is daar so baie Christelike kerke en sektes in die wêreld wat leerstellig in ‘n mindere of meerdere mate van die Bybel afwyk, en in sekere gevalle selfs die waarheid totaal verloën? Dit is alles die gevolg van onkunde en misleiding. Hierdie probleem is besig om verder in omvang toe te neem. In die lig hiervan is dit meer as ooit tevore nodig dat ons ons kennis van die Woord verbreed, ons geestelike insig verdiep, ons toewyding aan die Here Jesus verhoog en ons waaksaamheid teen die misleiding van Satan en sy valse profete verskerp. Vervalsings van die Christelike geloof neem in die eindtyd geweldig toe omdat dit die finale voorbereiding vir die verskyning van die valse Christus en die valse profeet is, wat deur hulle leuens die hele wêreld sal mislei (Matt. 24:4-5; 2 Thess. 2:6-10; Op. 13:11-14).

Hoewel geestelike misleiding in die Tuin van Eden al begin en onafgebroke deur die eeue heen voortgeduur het, is dit nou besig om die grootste afmetings in die geskiedenis van die mensdom aan te neem. Dit is van die uiterste belang dat elke persoon seker sal maak dat hy nie op ‘n dwaalspoor beland het nie. In baie kerke word daar duidelik teen sekere vorms van misleiding gewaarsku, terwyl die kerk self die slagoffer van ander, ernstiger dwalings mag wees (vgl. Op. 2:2-6). Die leuens van Satan is soms baie subtiel en word só oortuigend deur dwalende kerkvaders, misleide teoloë en ‘n toenemende aantal valse profete aangebied dat ons moet dink hierdie mense verkondig die waarheid aan ons. Die Bybel sê: “Sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie” (2 Kor. 11:13-15).

Die Heilige Gees wil ons deur die kennis van God en sy Woord toerus om teen die volgende vervalsings van die waarheid beskerm te word. In elke geval word die waarheid eers genoem sodat die afwykings in die lig daarvan duidelik sal blyk:

Ware en valse geloof

Die mens is geestelik dood as gevolg van die sondeval en kan, geestelik gesproke, nie glo nie. Dit is die rede waarom alle ongeredde mense as ‘ongelowiges’ beskryf word (2 Kor. 6:14). Satan probeer alles om te voorkom dat die lig van die evangelie op hulle skyn en hulle tot die besef van hulle verlorenheid bring. Hy weet dit is eers wanneer die sondaar die evangelie hoor, dat hy uit sy geestelike doodslaap ontwaak en in staat gestel word om te kan glo dat daar ‘n God is en dat sy Seun, Jesus Christus, vir die sondes van alle mense gesterf het.

Satan werp egter alles in die stryd om te verhoed dat mense die evangelie hoor. Paulus sê: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld [Satan] die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Satan weet uit ondervinding dat wanneer ongereddes die suiwer evangelie hoor, hulle ook deur die Heilige Gees in staat gestel sal word om te kan glo: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die Woord van God” (Rom. 10:17).

Wanneer die verlore sondaar wél die evangelie hoor, is dit ‘n oproep aan hom om uit sy verlore toestand te ontwaak en te glo dat die Here Jesus sy sonde wil vergewe en aan hom die ewige lewe wil skenk: “Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn” (Ef. 5:14). By die hoor van die evangelie vind daar by die sondaar ‘n geestelike ontwaking plaas om sy verlore toestand te besef, asook die enigste oplossing daarvoor, naamlik geloof in die Here Jesus as sy persoonlike Saligmaker.

Hierdie kennis stel hom voor ‘n besliste keuse om die eise van die evangelie te aanvaar as hy gered wil word, homself deur die belydenis van sy sonde en verlore toestand tot Christus te bekeer en Hom as Verlosser aan te neem. Wanneer dit gebeur, word die persoon ‘n gelowige in wie se hart die Here Jesus deur die Heilige Gees kom woon (Joh. 14:23).

‘n Ontwaakte sondaar is nog nie ‘n gelowige voordat hy aan die eise van die evangelie voldoen nie. Dit is op hierdie punt dat Satan probeer om ‘n valse geloof (eintlik ongeloof) in die sondaar se hart te vestig. Dit is veral wanneer die evangelie nie suiwer en in al sy konsekwensies verkondig word nie, dat misleiding kan insluip. ‘n Misleide sondaar kom dan tot die gevolgtrekking dat hy hom nie van al sy sondes hoef te bekeer nie, maar dat hy slegs in God en sy Seun moet glo. Dit is egter nie ‘n saligmakende geloof nie, omdat dit nie met bekering gepaard gaan nie.

God se eis is dat alle mense oral hulle moet bekeer (Hand. 17:30). Waarom moet hulle dit doen? Omdat bekering deel van ‘n ware geloof is. Die Here Jesus sê dat die evangelie aan al die sondaars verkondig moet word “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang” (Hand. 26:18).

Die duiwel wil ‘n ware geloof en bekering van hierdie aard voorkom, en mislei mense dan dat hulle net in God moet glo en by ‘n kerk aansluit. Sodoende bou hulle op ‘n valse fondament en ontwikkel net ‘n gedaante van godsaligheid sonder om regtig van ‘n sondige lewenswandel verlos te word (2 Tim. 3:1-5). Só ‘n geloof is vals omdat dit net op ‘n verstandelike aanname oor die bestaan van God gebaseer is. Op hierdie basis glo die duiwels ook in God, maar dit maak hoegenaamd nie van hulle bekeerdes of gelowiges nie! “Jy glo dat God één is… die duiwels glo dit ook, en hulle sidder” (Jak. 2:19).

Volgens Jakobus is die toets van ‘n ware geloof die werke wat daaruit voortvloei: “Want net soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood” (Jak. 2:26). Die eerste werke wat uit die geloofsaanvaarding van die Here Jesus voortspruit, is die belydenis van alle sondes wat skeiding tussen jou en Hom maak. Daarna wy jy jou hele lewe aan Hom en doen deur die krag van die Heilige Gees werke wat by die bekering pas (Matt. 3:8). Is hierdie werke, of godsvrug, in jou lewe sigbaar? Indien nie, het jy alle rede om die egtheid van jou geloof te betwyfel.

Doen ‘n eerlike selfondersoek. Paulus sê: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef” (2 Kor. 13:5). As jou lewe nie regtig verander het nie en die vrug van die Heilige Gees ontbreek steeds daarin, het jy nie ‘n ware geloof nie. Jy is dan ’n vormgodsdienstige wat die Here net met jou lippe bely, maar jou onweergebore hart is steeds ver van Hom af (Matt. 15:8). Die verskynsel van nominale gelowiges wat nog nie ‘n geestelike ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie, kom algemeen in Christelike kerke voor. Sulke mense het nie ‘n getuienis van wedergeboorte nie en probeer om die Here uit eie krag te dien. Hulle valse geloof en selfregverdiging sal hulle nog in die hel laat beland (Matt. 7:22-23; Luk. 18:8).

Ware en valse bekerings

Daar is twee soorte berou wat op hulle beurt tot twee soorte bekerings lei: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood” (2 Kor. 7:10). Hieruit is dit duidelik dat slegs ’n godgewerkte berou oor sonde, waarin die Heilige Gees jou van jou sonde en verlorenheid oortuig, tot ‘n ware bekering sal lei waaroor jy nooit spyt sal wees nie. Dit gebeur nadat ‘n sondaar aan die evangelie-boodskap blootgestel is en op grond daarvan van sy onwaardigheid, sondigheid en die Here Jesus se reddende genade bewus geword het.

Die ander soort berou wat tot ‘n valse bekering en die ewige dood lei, is selfbejammering. Baie keer is mense bitter jammer wanneer hulle sonde gedoen het en dit tot hulle skade en skande geopenbaar is. Dit mag die gevolg van drank- of dwelmmisbruik, buite-egtelike verhoudings, korrupsie, diefstal, polities-gemotiveerde verraad, of enige ander sonde wees. Hierdie mense het gewoonlik groot berou oor wat hulle aan hulleself, hul gesinne, hul vriende of aan ander mense gedoen het. Hulle wend dan menslike pogings aan om hulself sonder die Here se hulp uit dié toestand te rehabiliteer en sodoende vir die gemeenskap aanvaarbaar te maak.

Selfbejammering lei egter na die dood omdat sulke mense na meegevoel, menslike hulp (waaronder ook sielkundige berading) en aanvaarding deur die gemeenskap soek. Dit kan egter nie hulle sondeskuld wegneem en hulle siele red nie, daarom bly hulle in hul sonde. Selfs al beloof hulle plegtig om nie weer hierdie dinge te doen nie, lei dit nie tot ‘n blywende bekering en lewensverandering nie. Hulle goeie voornemens hou net ‘n rukkie, want die vlees “onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Sulke pogings en selfgemaakte bekerings lei na niks nie. Dit is eers wanneer die sondaar die evangelie ernstig opneem en besef dat hy in die eerste plek teen die Here gesondig het, dat ‘n godgegewe sonde-oortuiging oor hom sal kom wat tot ‘n ware bekering sal lei.

Ware en valse gebede

Daar is verskeie kenmerke van ware gebed:

·         Dit moet in die Naam van die Here Jesus gebid word, want slegs deur Hom is die verhoring van gebed gewaarborg (Joh. 14:13-14).

·         Dit moet in die geloof gebid word (Jak. 1:6-8; Heb. 11:6). In die heel eerste ware gebed wat ‘n persoon bid, moet hy sy sondes bely en die Here Jesus deur die geloof as sy Saligmaker aanneem.

·         Dit moet volgens die wil van God gebid word (1 Joh. 5:14). God se wil is dat ons Hom sal erken, sy Naam verheerlik en sal bid dat sy koninkryk kom (Mat. 6:9-10). Omdat sy koninkryk deur die toevoeging van geredde en geheiligde mense uitgebrei word, moet dit by ons ‘n hoë prioriteit wees om vir die  redding van siele (1 Tim. 2:1-4) en vir hulle heiligmaking te bid (1 Thess. 4:3). Nadat ons oor hierdie verhewe geestelike sake gebid het, kan ons ons tydelike behoeftes noem omdat dit ook God se wil is om hierin te voorsien (Fil. 4:19).

·         Persoonlike heiligheid is ‘n vereiste vir gebedsverhoring: “…en wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Joh. 3:22). Ek moet eers vir God verheerlik en myself in gehoorsaamheid aan Hom toewy, of hertoewy, voordat ek oor ander sake begin bid. As ek bewuste sondes in my lewe herberg en daardeur die Heilige Gees bedroef, het ek nie die vrymoedigheid om seëninge oor my lewe én ander mense se lewens af te bid nie.

·         Gebede wat vir God behaaglik is, moet ’n ewigheidsdoelstelling hê: “As ons net vir hierdie lewe op Christus hoop, dan is ons die ellendigste van alle mense” (1 Kor. 15:19). Ek moet die koninkryk van God en sy geregtigheid soek, dan sal die ander, tydelike dinge vir my bygevoeg word (Matt. 6:33).

Valse gebede voldoen nie aan die bogenoemde beginsels nie. Hoewel dit in die Naam van Jesus gebid mag word, is dit nie regtig op die uitvoering van sy wil en die uitbreiding van sy koninkryk gerig nie. By gebrek aan ‘n geestelike vergesig gaan dit net altyd oor tydelike dinge soos jou gesondheid, jou finansiële belange, jou huis, jou motor en jou kinders se materiële welstand. Sulke gebede is vals en word nie verhoor nie: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring” (Jak. 4:3). Die Living Bible parafraseer hierdie teks só: “And even when you do ask you don’t get it because your whole aim is wrong – you want only what will give you pleasure.”

Daar is ook nie ‘n duidelike geloofselement by valse gebede betrokke nie, maar slegs ‘n twyfelagtige, vae hoop: “…want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word. Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie – so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” (Jak. 1:6-8).

‘n Gebrek aan geloof is ‘n aanduiding van die afwesigheid van ‘n ware geloofsband tussen die bidder en die Here. Só ‘n persoon leef nog in sy sonde voort en probeer ook om dit weg te steek, daarom verhoor die Here nie sy gebede wat net op voorspoed en tydelike seëninge ingestel is nie: “Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel” (Spr. 28:9). In ‘n Nuwe Testamentiese verband is só ‘n persoon iemand wat nie die wet van liefde tot God en sy naaste eerbiedig nie, maar in die plek daarvan word die aard van sy gebede deur ‘n verdorwe selfliefde en liefde vir die wêreld en sy begeerlikhede gekenmerk.

Ware en valse lewensbeskouings

God het die mens na sy beeld geskape om Hom lief te hê en sy wil te doen. Dit verbind die mens aan ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing wat op vaste, Bybelse norme gebaseer is. Ons moet God as Skepper eerbiedig en aanspreeklikheid teenoor Hom aanvaar vir die wyse waarop ons sy skepping onderwerp en daaroor heers (Gen. 1:26). As mense moet ons ons godgegewe identiteit handhaaf en uitleef. God het die mens man en vrou gemaak, daarom moet elkeen se gedrag by sy of haar biologiese identiteit aanpas. As bousteen van die samelewing het die Here die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou ingestel. Verder het Hy ook ‘n bepaalde identiteit aan samelewings verleen deur hulle as verskillende volke met hul eie taal, kultuur en woongebied te laat bestaan (Gen. 11:6-8; Hand. 17:26). Morele beginsels is ook vir goeie interaksie tussen mense op verskillende vlakke neergelê, waaronder eerlikheid, hardwerkendheid, ordelikheid, geregtigheid, die erkenning van ander se regte, vreedsame naasbestaan en hulpverlening aan behoeftiges.

Hierteenoor is daar valse, duiwels-geïnspireerde lewensbeskouings wat uit die mens se verdorwe, sondige natuur voortspruit. God word nie hierin as Skepper erken nie omdat die mens se afkoms in terme van die valse evolusieteorie verklaar word. God se oppergesag, asook die geestelike en morele beginsels van sy koninkryk, word verwerp, daarom matig die gevalle mens homself aan om die bepaler van sy eie lotgevalle te word. Hy eien homself die reg toe om óf ‘n agnostikus te wees óf om enige afgod van die heidennasies te aanbid. Die hoogste gesag in die samelewing is vir hom die staat, terwyl die beginsels waarvolgens hy leef, deur ‘n humanistiese handves vir menseregte bepaal word. Hierin word daar onbeperkte vryhede aan mense gegee om self hulle identiteit en rol in die samelewing te bepaal. Dit lei daartoe dat die Christelike huwelik nie meer die enigste norm is nie, omdat homoseksuele verhoudings ook toelaatbaar is. Die afwesigheid van ‘n Bybelse moraliteit lei noodwendig daartoe dat hebsug, materialisme, gewelddadigheid, korrupsie, diefstal, wanorde, perverse seksualiteit en sondes van alle moontlike beskrywings vryelik floreer. Spoedig sal die verdorwe wêreldbevolking die Antichris as die ongeregtige en mens van sonde as sy leier kies (2 Thess. 2:3-10) en ook deur hom gemobiliseer word om in ’n selfvernietigingsoorlog teen die ware Christus te veg wanneer Hy kom (Op. 19:19-21; Sag. 14:12-13). Die gevalle mens se valse en verdorwe lewensbeskouings sal dus uiteindelik tot sy selfvernietiging lei.

Ware en valse heiligheid

Ware heiligheid is wanneer jou gees, siel en liggaam tot só ‘n mate deur die Heilige Gees beheer word dat jy in jou hele lewenswandel heilig word (1 Pet. 1:15; 1 Thess. 5:23). Dit beteken dat jou motiewe en gedagtes in ooreenstemming met God se wil gebring word, asook jou woorde en werke. Oorwinning word oor selfsug, afgunstigheid en wêreldsgesindheid behaal omdat die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig is (Luk. 9:23; Gal. 5:16).

‘n Diep geestelike verandering sal egter nie plaasvind voordat jy in ‘n volle oorgawe die ou natuur afgelê en met die nuwe natuur van Christus beklee is nie. Paulus sê die volgende oor die vernuwende werk van heiligmaking aan die gemeente in Éfese: “…dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24). Vir só ‘n persoon is die lewe Christus en heiligmaking ‘n daaglikse lewenswyse.

Daar is egter ook baie skynheiliges wie se heiligheid op valse fondamente berus. In Bybelse tye het die skrifgeleerdes en Fariseërs se heiligheid op menslike pogings tot wetsnakoming berus. Hulle lewens was egter net uiterlik mooi, soos witgepleisterde grafte, terwyl dit binne vol ongeregtigheid en doodsbeendere was. Innerlik was hulle vleeslik en bedorwe (Matt. 23:27-28).

In moderne tye is daar ook baie mense wat nalaat om die vlees oor te lewer om gekruisig te word, sodat hulle met die Heilige Gees vervul kan word. As ’n plaasvervanger hiervoor probeer hulle dan om deur duiweluitdrywing van hulle sondige neigings ontslae te raak. Verskeie bevrydingsbedienings bied sulke dienste aan, maar sonder die Bybelse leer van heiligmaking deur die opneem van die kruis van selfverloëning (Gal. 6:14), is dit alles tevergeefs. Hulle spreek steeds nie die struikelblok van die vlees aan nie.

Ware en valse kerke

Uit die oorsig van die Christelike kerk in Openbaring 2 en 3 is dit duidelik dat daar aan die einde van die eerste eeu al meer valse as ware kerke was. Net twee van die sewe tipiese gemeentes van die Christendom word positief geëvalueer sonder enige vermanings as gevolg van leerstellige of morele dwalings. Hulle is Smirna en Filadelfia. Smirna is die vervolgde kerk, en hierin is daar nie plek vir wêreldsgesindheid, menseverering en afgodediens nie. As ons saam met Christus ly, dan is ons op die regte pad om ook eendag saam met Hom te regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Filadelfia is die evangelisasiebewuste gemeente wat min bates en invloed in die wêreld het. Twee belangrike sake waarvoor hulle geprys word, is omdat hulle die Here se Woord bewaar en die Here Jesus se Naam nie verloën het nie (Op. 3:8). Dit is ook vandag kenmerkend van ware kerke dat hulle die goddelike inspirasie en foutloosheid van die Bybel as God se Woord erken, terwyl hulle konsekwent die maagdelike geboorte en Godheid van Jesus Christus bely.

Die ander vyf gemeentes is by ernstige dwalings betrokke. Éfese is die geestelik teruggevalle gemeente waarin daar baie Christelike aktiwiteite is, en selfs ook duidelike standpunte teenoor sekere dwalings, maar die lidmate se lojaliteit is in die eerste plek teenoor die kerk en die predikant. Jesus word wél in naam erken, maar Hy is niks meer as ‘n simboliese figuur wat net in die gedagtes van mense bestaan nie. Hy is nie sentraal in hulle lewens nie, daarom word hulle nie deur liefde vir Hom gemotiveer om aktief in die gemeente te wees nie. Hulle bely Hom met die lippe terwyl hulle harte ver van Hom af is (Matt 15:8). Wat is Jesus se reaksie op die feit dat Hy in weklikheid uit die lidmate se lewens geskuif is? Hy roep hulle tot bekering uit hierdie vervalle, vormgodsdienstige toestand op: “Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eesrte werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5). Het jy die Here Jesus bo alles lief?

Pergamus is die kompromiemakende gemeente. “Pergamus” beteken “troue” en veronderstel ‘n huwelik tussen die kerk en die wêreld. Hulle verkondig “die leer van Bileam” (Op. 2:14), wat op die beginsel van kompromie en samewerking tussen die heidendom en God se volk berus. Bileam het die heidense koning, Balak, aangeraai om nie ‘n beleid van konfrontasie teenoor Israel te volg nie, maar een van vriendskap en samewerking. Dit het daartoe gelei dat Israel ‘n Baälfees bygewoon het waar afgodsoffers geëet is (Num. 25:1-3). Vandag word daar ook onbeskaamde leerstellige kompromie gemaak op grond van die misleidende aanname dat alle gelowe dieselfde God aanbid en dus op ‘n intergeloofsvlak met mekaar kan assosieer. Die persoon in Pergamus wat as die Here se getroue getuie beskryf word, se naam was Antipas. Dit beteken “Teen alles.” Hy het nie met die multigodsdienstige dwalings saamgegaan nie en moes met sy lewe daarvoor boet. Die gemeente in Thiatire het hulleself onder die leiding van ‘n valse profetes aan soortgelyke leerstellige en morele dwalings skuldig gemaak (Op. 2:20).

Die gemeente in Sardis is deur geestelike doodsheid en ‘n gebrek aan evangelisasiewerk gekenmerk (Op. 3: 1-2). Die oplossing hiervoor is om in ‘n wit kleed te wandel, en dit sal slegs gebeur as ons deur die Heilige Gees vervul en geheilig is deur dié Een wat die volheid van die Gees het (Op. 3:1,4; 1 Thess. 4:3,7).

Laodicéa is die ryk, selfregverdigende kerk wat op die mens en sy prestasies ingestel is. “Laodicéa” beteken “menseregte” en verwys na die humanistiese karakter van hierdie gemeente. Omdat Christus nie sentraal in hulle lewens is nie, mis hulle Hom nie eers nie en sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie” (Op. 3:17). Hulle selfregverdiging op grond van uiterlike kriteria verklaar die feit waarom hulle geestelik bankrot is. Jesus sê: “Jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17). Daar is ook vandag talle gemeentes van hierdie soort, waarin mense deur ‘n dooie vormgodsdiens gekenmerk word. Die groot tragedie is dat hulle nie eers van hulle geestelike doodsheid bewus is nie. Hulle groot kerke, geleerde predikante, sosiale aanvaarbaarheid, baie geld, hoë lewenstyl en sterk ingesteldheid op menseregte is ’n omvangryke valse fondament waarop hulle lewens en verwagtings gebou is. Dit is alles egter tevergeefs (Matt. 7:21).

Die meeste moderne kerke is ‘n voortsetting van een of meer van die die vyf valse gemeente-tipes wat hierbo genoem is, en wat ál vyf deur die Here tot bekering opgeroep word. Daar het deur die jare heen ook talle nuwe dwalings bygekom. Die Here Jesus gaan sy volgelinge in ‘n siftingsproses van beproewings geestelik en moreel reinig voordat Hy hulle kom haal (Matt. 3:12). Is jy onder die afvalliges en kompromiemakers, of onder diegene wat die Here Jesus se Woord bewaar, sy Naam nie verloën nie, en bereid is om verwerping en verdrukking ter wille van die ware evangelie te verdra?

Ware en valse leraars

‘n Ware leraar is iemand wat ‘n moeilike en soms eensame, steil paadjie het om te bewandel. Hiervan mag hy nie links of regs afwyk nie. ‘n Basiese kwalifikasie vir ‘n ware leraar is dat hy ná wedergeboorte ook met die krag van die Heilige Gees toegerus moet word om sy werk te kan doen. Die Here Jesus het gesê: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem… en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Is jy vervul met die Heilige Gees? In die vroeë kerk is daar seker gemaak dat al die ampsdraers van die gemeente ook aan hierdie standaard voldoen het (Hand. 6:3).

Dit is slegs onder die salwing van die Heilige Gees dat die Woord met krag verkondig kan word, en ook dat die groot betekenis van Christus se kruisdood beklemtoon sal word. Paulus het gesê: “Ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde… en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag” (1 Kor. 2:2,4).

Skrifgebonde prediking vereis ‘n baie goeie kennis van die Woord (2 Tim. 3:15-17). Die raad aan die jong prediker, Timótheus, was: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim. 4:2). Apologetiese (verdedigende) prediking impliseer noodwendig dat evangeliese leraars erg deur valse, kompromiemakende leraars gekritiseer en selfs vervolg sal word. Bly egter by die waarheid van die Woord en laat jou nie deur hulle afsit nie: “Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ‘n evangelis; vervul jou bediening” (2 Tim. 4:5). Word jy deur ‘n goeie Skrifkennis gekenmerk, die vermoë om te kan onderrig asook die bereidwilligheid om ter wille van Christus vervolg te word? “’n Dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra” (2 Tim. 2:24).

Die valse leraars wyk heeltemal van die waarheid van die Woord af en hou aan mense populêre maar valse fondamente voor waarop hulle hul lewens moet bou: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Een van hierdie fabels is dat kerklike sakramente soos die doop (kinderbesprinkeling) ‘n baba se siel red en van hom vir ewig ‘n verbondskind maak wat nooit verlore kan gaan nie. Dit streel baie mense se gehoor om so-iets te hoor, want dan hoef dié kind nie later weergebore te word nie, en sal die ergste denkbare afvalligheid van sy kant af hom volgens hulle ook nie uit die hemel hou nie. Net so seker as wat die besnyde maar goddelose lede van die Israelse verbondsvolk deur die Here verwerp is en in die woestyn gesterf het omdat hulle harte nie besny was nie, sal die gedoopte maar onweergebore verbondskinders van die Nuwe Testament ook in hulle sondes sterf as hulle nie tot ‘n ware geloof gekom het nie (1 Kor. 10:5-11; Heb. 4:1-2). Hulle sal ewe verwerplik wees.

Daar is nie perke waarheen valse leraars kan verval nie. Uiteindelik verwerp hulle die Bybel as God se Woord, of verdraai en vergeestelik dit só erg dat dit heeltemal sy betekenis en krag verloor. Daarna word hulle leerstellige aanvalle op die Here Jesus gerig en ontken hulle sy maagdelike geboorte en Godheid. As gevolg hiervan sal die oordele van God oor hulle en hulle misleide volgelinge kom. Petrus sê: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2). Hulle sal dus die evangeliese leraars erg teëstaan en as boos, negatief en veroordelend beskryf omdat hulle nie kompromie met andersdenkendes wil maak nie.

Daar is verskeie ander dwalings wat algemeen onder afvallige predikers voorkom. Baie van hulle soek in die eerste plek na populariteit, rykdom en eer. Om ‘n groot gevolg mense bemekaar te kry, moet daar ’n trekpleister van sensasie wees, en dit neem dikwels die vorm van opspraakwekkende tekens en wonderwerke aan – veral groot aansprake oor geloofsgenesing. Die mees suksesvolle predikers in hierdie kategorie word ryk, hoogmoedig en arrogant. Hulle vleeslike gesindheid met sy verwronge, selfgerigte doelstellings laat hulle gou in leerstellige dwalings verval, en sodoende ondermyn hulle die ware Christendom.

Hierdie predikers gee ‘n skewe voorstelling van God se verborge koninkryk in die huidige dispensasie, naamlik dat rykdom, liggaamlike gesondheid, ‘n goeie selfbeeld en ander vorms van materiële voorspoed as die Here se spesiale seëninge deur alle gelowiges ervaar kan word. Hulle lê sodoende die grondslag vir ’n koninkryksteologie waarin ons nóú die uiterlike voordele van die koninkryk kan geniet, soos ongekende rykdomme, mag en sosiale aansien. Volgens hulle is ons nie vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê nie, maar heersers in die geopenbaarde koninkryk van God. Dit is die rede waarom die valse predikers dink dat die massas mense wat hulle deur hulle misleiding trek, die begin van ’n herlewingsbeweging is waarin die ware “kerk” spoedig die hele wêreld sal oorneem. Hulle bevorder hierdie visie deurdat die spesiale “salwing” wat hulle na bewering by die Here ontvang het, deur handoplegging aan besoekende predikers en “profete” oorgedra word. Hierdie mense gaan dan na ander wêrelddele terug om die herlewingsvure daar deur hulle nuutgevonde bonatuurlike magte aan die brand te steek.

Die Here Jesus het ons nie verniet teen die  valse profete van die eindtyd gewaarsku nie: “Pas op dat niemand julle mislei nie… baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei… en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4,11,24). Die uitverkore volk, Israel, sal ook deur valse profete en ‘n valse messias mislei word (Joh. 5:43). Die misleiers sal as wolwe in skaapsklere deur die duiwel uitgestuur word om Israel en die nasies te verlei (Matt. 7:15-16). Paulus sê dat hulle koms “volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” sal wees (2 Thess. 2:9).

Die valse godsdienstige waardes van hierdie misleiers vertoon geen ware geestelikheid nie omdat dit net op die dinge van hierdie wêreld ingestel is. Dit is presies waarteen ware predikers gewaarsku word: “Hou as herders toesig oor die kudde van God… nie om vuil gewin nie… ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde… en wees almal met ootmoed beklee in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade… En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (1 Pet. 5:2-10).

Ons word geestelik deur lyding en diensbaarheid op die openbaring van Christus se ewige koninkryk voorberei. Met die vooruitsig hierop is ons nie bekommerd oor die slegte uiterlike omstandighede waarin ons is nie, ook nie oor die aftakeling van ons gesondheid en lewenskragte as gevolg van siektes en veroudering nie, want ons verwag ‘n nuwe liggaam, ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid sal woon: “Daarom gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ’n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig” (2 Kor. 4:16-18).

Die Living Bible parafraseer hierdie gedeelte só: “That is why we never give up. Though our bodies are dying, our inner strength in the Lord is growing every day. These troubles and sufferings of ours are, after all, quite small and won’t last very long. Yet this short time of distress will result in God’s richest blessing upon us forever and ever! So we do not look at what we can see right now, the troubles all around us, but we look forward to the joys in heaven which we have not yet seen. The troubles will soon be over, but the joys to come will last forever” (2 Cor. 4:16-18).

Die valse predikers spesialiseer op die dinge van hierdie wêreld, daarom wil hulle hier en nou ’n koninkryk vestig. Hulle weet nie hoe verwronge hulle sienings en hoe arm hulle geestelik self is nie, en gaan volstoom voort om miljoene ander mense te mislei. Die Here sê: “Omdat jy lou is… sal Ek jou uit my mond spuug” (Op. 3:16). Hierdie valse predikers verwerp alle bewerings oor hulle geestelike bankrotskap, en gaan met die hulp van die duiwel op die pad van misleiding voort. Hulle weet nie dat Christus Homself van hulle gedistansieer het omdat hulle die deur van hulle harte én bedienings vir verleidende geeste en leringe van duiwels oopgemaak het nie (1 Tim. 4:1).

Ware en valse evangelies

Die evangelie is die goeie nuus van God se reddende genade wat op grond van die kruisdood van Jesus Christus aan alle mense gebied word. God se geregtigheid vereis dat alle dade van sonde en rebellie teenoor Hom gestraf word, aangesien dit op die verwerping van Hom en sy koninkryk neerkom: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). Die hele mensdom staan in die beskuldigdebank omdat almal gesondig het: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie” (Rom. 3:10; kyk ook 5:12). Die ewige dood wag op alle mense.

Die reël staan vas, naamlik dat alle sonde met die dood van die oortreder gestraf moet word. Die goeie nuus van die evangelie is dat ‘n onskuldige Persoon, Jesus Christus, in die plek van al die skuldiges gesterf het: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom… Die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom” (Jes. 53:5). Sy dood bring vir ons vryspraak en lewe: “Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof” (Rom. 3:25). ‘n Sondaar wat gered wil word, moet sy sondes en verlore toestand in gebed aan die Here Jesus bely (1 Joh. 1:9) en Hom as sy persoonlike Verlosser en Saligmaker aanneem (Joh. 1:12; 1 Joh. 5:13).

Die koms van Jesus Christus na die aarde was nie om God se oordeel oor sondaars te voltrek nie, maar om aan almal van hulle vergifnis en redding te bied: “Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word” (Joh. 3:17). “God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn” (Rom. 5:8-9).

Die Here Jesus sal egter by sy wederkoms, en ook voor die groot wit troon wanneer alle sondaars uit die dood sal opstaan, die oordeel van God oor hulle uitspreek omdat hulle geweier het om tot bekering te kom: “Gaan weg van My, julle vervloektes, in die ewige vuur wat berei is vir die duiwel en sy engele” (Matt. 25:41; kyk ook Hand. 17:30-31).

In valse evangelies word een of meer van die kernwaarhede van die Bybelse verlossingsleer ontken of verswyg. Die volgende is ses voorbeelde van verskeie valse evangelies wat verkondig word:

Die algemene genade. Volgens hierdie beskouing, wat verkeerdelik van Titus 2:11 afgelei is, skenk God sy reddende genade aan alle mense – of hulle dit weet of nie, en of hulle dit aangeneem het of nie. Bekering en geloof is dus nie nodig nie, omdat alle mense eendag hemel toe sal gaan. In terme hiervan word Boeddhiste, Hindoes en voorvaderaanbidders as “anonieme Christene” beskou. Hulle weet nie dat God reeds alle mense begenadig het nie. Daar is volgens hierdie teorie nie ‘n enkele mens op aarde wat hel toe sal gaan nie.

‘n Goeie lewe. Mense wat op morele gebied goeie lewens lei, sal almal eendag hemel toe gaan. Dit is ‘n selfverlossingsleer, omdat jou eie lewe en goeie werke die maatstaf vir jou redding is, en nie die kruisdood van die Here Jesus nie.

Doopsaligheid. Die doop is die goue sleutel waardeur ‘n persoon in ‘n ewige verbondsverhouding met die Here geplaas word. Op grond hiervan word kinders salig verklaar nog voordat hulle hul verstand gekry het, gevolglik word wedergeboorte later in hul lewe nie as nodig geag nie. Hulle behoort na bewering reeds aan die Here en niemand kan hulle uit sy hand ruk nie.

Geen oordeel. Daar is baie mense wat nie al God se attribute ken nie en dan verkeerdelik beweer dat Hy só liefdevol is dat Hy niemand hel toe sal stuur nie. Sulke mense glo nie eers dat daar ‘n hel is nie en neem dus nie die nodige stappe om die toekomstige oordeel oor sondaars te ontvlug nie.

Vergifnis sonder die kruis. Daar is ‘n toenemende aantal teoloë wat die kruis-evangelie heeltemal verloën en op grond daarvan baie mense mislei. Hulle ontken die feit dat die Here Jesus aan die kruis moes sterf om die prys vir ons sonde te betaal. Volgens hulle vergewe God ons omdat Hy vergewensgesind is, en nie op grond van die bloed van sy Seun wat aan die kruis gestort is nie. Hulle hang duidelik ‘n onbybelse verlossingsleer aan.

Redding deur ander gelowe. In moderne, multigodsdienstige denke word die leuen verkondig dat alle gelowe dieselfde God aanbid en derhalwe almal ‘n grondslag vir saligheid aan hulle volgelinge bied. Volgens hierdie beskouing is daar baie middelaars tussen God en die mens, bv. Mohammed en Maria, en word die Bybelse uitspraak dat niemand na die Vader kan gaan behalwe deur Jesus Christus nie (Joh. 14:6), skaamteloos ontken.

Ware en valse herlewing

Daar was deur die eeue heen ‘n versugting onder groepe Christene na ‘n kragtige geestelike herlewing in kerke wat deur lae geestelike standaarde gekenmerk word. Ervarings in die vroeë Christelike kerk (die Handelinge-tydperk), asook die herlewings van die 18de en 19de eeue, word as maatstaf geneem van dit wat kán gebeur as God sy kerk op ‘n nuwe manier met die krag van die Heilige Gees toerus.

Die woord “herlewing” veronderstel nuwe lewe waar daar reeds lewe is. Dit beteken in die eerste plek dat daar deur die werking van die Heilige Gees nuwe lewe in kinders van God moet kom wat vleeslik, passief, biddeloos, kragteloos, wêreldsgesind en teruggevalle is. Die toestand van louheid waarin hulle verval het, met al die verskillende gevolge van geestelike stagnasie en liefde vir die wêreld, kan alles aan ‘n ongekruisigde vlees toegeskryf word. Dit was die probleem met die Korinthiërs wat onder die heerskappy van die vlees geleef het (1 Kor. 3:1-3), en ook met die Galásiërs: “…want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17). Die Here Jesus het ook duidelik gesê dat die vlees (die eie-ek, of ou natuur wat na sonde lei) gekruisig moet word as ons ware dissipels van Hom wil wees (Luk. 9:23).

Wanneer ‘n kind van die Here homself deeglik onder die leiding van die Heilige Gees ondersoek en opnuut die vlees met al sy werke aflê, voldoen hy aan die voorwaarde vir herlewing. Die Here sal hom dan, vir die eerste keer of by hernuwing, met sy Gees vul en toerus om kragtig vir Hom te kan getuig en te werk. Wanneer groepe Christene hierdie ervaring deelagtig word, neem hulle hul verantwoordelikheid en opdrag om die evangelie te verkondig, ernstig op. Dit sal sigbare gevolge in die samelewing hê, omdat ‘n groot oes van siele wat vir die eerste keer tot bekering kom, altyd die gevolg van ’n herlewing onder Christene is. Op grond van hierdie Christene se getuienis, voorbeeld en prediking, ontwaak sondaars uit hulle geestelike doodslaap en roep dan om redding en heiligmaking tot die Here. Die bekering van sondaars kan dus nie in sigself as herlewing beskryf word nie, omdat hulle redding die gevolg van ‘n ware herlewingsbeweging is. Christene “herleef” tot ware heiligmaking en sondaars “ontwaak” om tot bekering te kom, vandaar die verwante Engelse terme “revival” en “awakening.”

Daar is ongelukkig ook verskeie valse herlewingsbewegings waarin die struikelblok van die ongekruisigde vlees, asook die gevolglike gebrek aan ’n Geesvervulde lewe, nie as die belangrikste rede vir die afwesigheid aan herlewing beskou word nie. Die volgende is die belangrikste kenmerke van sulke bewegings:

Tekens en wonders. In baie gevalle is die ingesteldheid onder voorstanders van herlewing op ’n hernude voorkoms van tekens en wonders gerig – veral genesingswonders. Daar word na die herlewings van die eerste eeu verwys toe baie wonderwerke en spesiale openbarings van God se wil plaasgevind het, en ook dikwels in ander tale gespreek is. Hierdie verskynsels word egter nêrens as ’n noodsaaklike deel van ‘n geestelike ontwaking beskryf nie, omdat die rol daarvan hoofsaaklik tot die oorgangsfase tussen die ou verbond met Israel en Christus se nuwe genadeverbond met alle nasies beperk was. Die Here wou tydens die oorgangsfase hê dat Israel én die nasies duidelik sou besef dat die tyd verby was dat sy handelinge feitlik uitsluitlik tot Israel beperk was. In die nuwe bedeling sou sy genade-aanbod op ‘n gelyke vlak aan alle nasies en tale gerig word, daarom is die evangelie dikwels in daardie vroeë jare deur die instaatstelling van die Heilige Gees in verskeie ander, verstaanbare tale verkondig. Tekens en wonders is ook gebruik om die Messiasskap van Jesus te bevestig (Matt. 11:2-6), asook die bediening van die relatief klein groepie verwerpte dissipels (Mark. 16:20). Spesiale openbarings van God se wil was ook nodig omdat daar nog nie ‘n Bybel was nie. Die briewe van die Nuwe Testament is eers in die tweede helfte van die eerste eeu geskryf en was vir ‘n lank tyd net in ’n beperkte mate beskikbaar. In die lig van al hierdie feite moet die vraag duidelik gestel word: Waarom soek mense in moderne herlewingsbewegings na ‘n herhaling van hierdie spesiale tekens? Die gemeente van Jesus Christus is reeds onder alle nasies gevestig, en die meeste van hulle het ook die Bybel, of gedeeltes daarvan, in hulle eie taal beskikbaar. Hulle hoef dus nie na buite-Bybelse openbarings van God se wil te soek nie. Tekens dien lankal ook nie meer ‘n doel om die Messiasskap van die Here Jesus te bevestig of om geloofwaardigheid aan sy getuies te verleen nie. Ná byna tweeduisend jaar van die Christendom in die wêreld het ons ‘n groot wolk van getuies (Heb. 12:1) wat die volle waarheid van die evangelieboodskap bevestig. In die groot herlewings van die 18de en 19de eeue het hierdie spesiale tekens en buite-Bybelse openbarings van God se wil geen rol gespeel nie, en tóg het die Here deur sy Gees kragtig in miljoene mense se harte en lewens gewerk.

Koninkrykshervormings. Dit is onder baie mense ‘n populêre neiging om vir die kerk ‘n koninkryksvisie te skep en dan herlewing as ‘n middel tot die realisering van hierdie visie te sien. Die ernstige fout wat deur dié mense gemaak word, is dat profesieë oor ‘n toekomstige koninkryk van God op aarde, wat eers ná die wederkoms van Christus sal aanbreek, op die huidige kerkdispensasie toegepas word. Hulle beweer dat dit net as gevolg van ons gebrekkige geloof is dat ons nie nou al soos konings saam met Christus regeer, in ekonomiese oorvloed en siektevrye toestande leef, en oor die mag beskik om na willekeur tekens en wonders te doen nie. Volgens hulle sal die Here ons positiewe geloof in die koms van sy koninkryk nóú beloon deur Christene in sleutelposisies in alle samelewings te plaas en sodoende die hele wêreld Christelik te rekonstrueer. Herlewing word met die oog hierop nagestreef, en ‘n groot geloof in wonderwerke as die sleutel tot veranderings op die geestelike en morele gebied gesien. By hulle val die klem nie op die kruisiging van die vlees en ‘n nuwe oorgawe aan die Here nie. Nederigheid en diensbaarheid in ‘n vyandige wêreld wat in die mag van die Bose lê, word nie deur hulle nagestreef nie, maar die beoefening van ‘n groot geloof wat van jou nóú ‘n koning en ‘n heerser sal maak! Dit is egter ’n misplaaste visie.

Kerkgroei- en kerkeenheid. Herlewing word soms ter wille van kerkgroei en die ekumeniese vereniging van kerke in ‘n groot bewegings nagestreef. Daar word selfs van die post-denominasionele wêreldkerk van die 21ste eeu gepraat, wat in elke dorp of stad onder die oorhoofse leiding van profete en apostels sal staan. Hierdie leiers sal oor groot magte beskik en namens God oor sy verenigde kerk op aarde regeer. Alle sekulêre magte sal voor hulle verkrummel, en die kennis en vrees van die Here sal die hele aarde oordek.

Die onttroning van die Bose. Die transformasie-beweging is ook ‘n vorm van koninkryksteologie wat op die samewerking en uiteindelike vereniging van alle kerke ingestel is. Hulle het ‘n plan van aksie om die groot herlewings wat hulle verwag, te laat plaasvind, naamlik die oorwinning en uitskakeling van opponerende sataniese magte. Volgens die beweging se leiers, veral George Otis, Peter Wagner en Ted Haggard, moet daar eers ‘n opname van bose vestings in samelewings gemaak word (geestelike kartering, of “spiritual mapping”). Wanneer daar vasgestel is wat die tipiese sondes en geestelike bindings in ‘n gebied is, bv. valse godsdienste, towery, voorvaderaanbidding, haat, misdaad, of enigiets anders, moet strategiese geestelike oorlogvoering teen die vestings van Satan gevoer word. Die vestings van sulke gebiedsdemone is glo in die lug bokant ‘n bepaalde stad of streek, en voordat hulle mag gebreek is, sal herlewing nie plaasvind nie. Daar word gebedswandelinge onderneem om die bose magte te bestraf en te verdryf. Op ‘n onbybelse wyse word dan geglo dat Satan en sy magte nog voor Christus se wederkoms hulle houvas oor mense sal verloor en dat alle misdaad, wanverhoudings, probleme en sonde in die betrokke gebiede sal ophou en vir ‘n reuse herlewing plek maak. Só sal die hele wêreld uiteindelik verchristelik en van alle bose invloede bevry word. Die Bybel self praat egter net van geestelike oorlogvoering op individuele vlak, deurdat persone van satansmag bevry word (Ef. 6:10-13; 2 Kor. 10:3-5). Die wêreld as sodanig sal ál hoe boser word en uiteindelik op ‘n groot verdrukking afstuur waarin die Antichris oor die hele aarde sal regeer (Matt. 24:21; Op. 13:1-7). In hierdie beweging word die fout by demone gesoek, en word ‘n toenemende aantal bevrydingsbedienings ook vir individue op die been gebring. Mense word nie gehelp om oorwinning oor die vlees en sy bose hartstogte te verkry en Geesvervulde lewens te lei nie, maar uit almal (ook uit Christene!) word duiwels gedryf om hulle vry te maak. Hierdie benadering, soos ook die ander valse benaderings waaraan dit nou verwant is, kan volgens Bybelse standaarde nie na herlewing lei nie. Dit is ‘n valse verwagting waardeur selfs evangeliese kerke beïnvloed en mislei word.

Ware en valse toekomsverwagtings

Die Bybel gee aan ons ‘n baie duidelike prentjie van hoe wêreldgebeure in die eindtyd sal verloop. Ons weet dat die wêreld al hoe slegter en boser sal word (2 Tim. 3:1-5). Grootskaalse geestelike misleiding sal onder die aanstigting van duiwels plaasvind (1 Tim. 4:1) en met die behulp van valse profete oral verkondig word (Matt. 24:4-5,11). Hulle sal ‘n valse herlewingsbeweging op tou sit wat op tekens en wonderwerke gebaseer is (Matt. 24:24). In hierdie tyd sal sonde en ongeregtigheid geweldig toeneem (Matt. 24:12) sodat die hele wêreld, soos in die tyd van Noag en Lot (Luk. 17:26-30), vol gruwelike sondes sal wees. Dit sal die klimaatskepping vir die verskyning van die mens van sonde, die Antichris, wees (2 Thess. 2:3). Onder sy leiding, en ook as gevolg van oordele wat die Here oor die aarde sal uitstort, sal daar ‘n groot verdrukking wees waarin die meerderheid van alle mense op aarde sal sterf (Matt. 24:21-22; Op. 6:12-17; Jes. 13:9-13; 24:3-6).

Christene besef die realiteit van ‘n vervallende en slegter wordende wêreld in die eindtyd, maar hulle het die salige hoop dat die Here ons voor die donker dae van die sewe jaar lange verdrukking onder die Antichris sal kom haal (Luk. 21:36). Te midde van al die probleme en ellende het hulle ‘n blye verwagting van ontvlugting en verheerliking.

Die wêreldlinge, aan die ander kant, ontken die feit van die naderende groot verdrukking en stel hulle hoop in die antichristelik-geïnspireerde nuwe wêreldorde van internasionale eenheid, vrede en harmonie. Dit is egter ‘n valse toekomsverwagting wat in ‘n vreeslike ontnugtering gaan eindig: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle… en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3). Die valse hoop wat hulle najaag, sal in ‘n nag verskrikking eindig soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie.

Vir die aanhangers van die valse herlewingsbewegings wag daar dieselfde ontnugtering – selfs ook vir diegene wat valslik gedink het dat hulle die Christendom bevorder deur buite-Bybelse profesieë uit te spreek, kragtige tekens en wonders te doen en oral net duiwels uit te dryf om van die wêreld ‘n beter plek te maak: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Matt. 7:22-23).

Waarom sal die Here Jesus vir hierdie mense, wat oënskynlik met dinamiese Christelike bedienings in sy Naam besig was, sê dat Hy hulle nie ken nie en dat hulle met ongeregtigheid besig was? Dit is om aan ons te toon hoe nou die grens tussen die waarheid en die leuen is. Hulle valsheid word agter groot uiterlike vertoon en verstommende aansprake oor die krag van die Here verberg. Deur hierdie dinge mislei hulle die mensdom om hulle na te volg, en sodoende bou hulle groot bedienings op en word in die proses skatryk. Daar is geen sprake van ‘n lewe van nederigheid, heiligheid en gehoorsaamheid aan die Here nie. In die plek daarvan neem selfverheffing, hardkoppigheid, skynheiligheid en ‘n onleerbare, vleeslike gees heeltemal van hulle besit.

Onderskeidingsvermoë

Het jy onder die leiding van die Heilige Gees die onderskeidingsvermoë om sulke valshede van die waarheid te kan onderskei? Jy moet nie ‘n blinde navolger van mense wees nie, maar in staat om enige persoon en sy aansprake aan ‘n Skriftoets te onderwerp en ook navraag te doen om vas te stel of die betrokke “profeet” met misleiding besig is of nie. Inligting van hierdie aard sal aan jou toon deur watter gees die profeet gemotiveer word: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan” (1 Joh. 4:1). Valse profete is met onbybelse praktyke besig, mislei mense  deur die Bybel verkeerd te vertolk en valse verwagtings by hulle te skep, en bou eerder aan hulle eie koninkryk as aan dié van Christus.

Hiermee word nie te kenne gegee dat dit maklik is om die valse profete te onderskei nie. Sommige van hulle beweeg baie naby aan die waarheid en mislei duisende mense. ’n Noukeurige ondersoek sal egter leuens, onbybelse praktyke en onsuiwer motiewe by die “profeet” aan die lig bring. Gewoonlik streef hulle na persoonlike eer en rykdom, maak sensasionele aansprake en word in die proses kultusleiers.

Die Heilige Gees is die Gees van waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 16:13). “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Ervaar jy die vrymakende krag van die Here Jesus, van sy Woord en sy Heilige Gees? As jy in die volheid hiervan wandel, sal die valse profete jou nie kan mislei nie. Hou aan om nougeset te wandel en moenie links of regs van hierdie weg afwyk nie.

Apologetiese prediking

Geestelike dwalings móét in goeie prediking uitgewys word omdat dit ’n beproefde metode is om die waarheid teen alle vorms van die vervalsing daarvan te verdedig. Dit help om ’n skerper definiëring van die waarheid te doen wanneer die kontrasterende situasie geskets word, naamlik dit wat die waarheid nie is nie en ook nooit kan wees ne. Die Here Jesus het dikwels ter verdediging van die waarheid (apologeties) gepreek deur teen dwalings en vervalsings soos die volgende te waarsku:

“Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie” (Matt. 7:15-16). Uiterlike voorkoms, sosiale status, ‘n hoë kerklike posisie en titels soos profeet of leraar is nie ’n waarborg vir innerlike godsvrug nie, maar dikwels ’n skans vir die leuen. Moet dus nie sulke persone op sigwaarde aanvaar nie, maar ondersoek hulle lewe en werke. Moet jou nie deur ’n persoon laat beïnvloed wie se eie lewe nie reg is nie.

 “Pas op en wees op julle hoede vir die suurdeeg van die Fariseërs en Sadduseërs… toe het hulle begryp dat… hulle moes oppas vir die leer van die Fariseërs en Sadduseërs” (Matt. 16:6,12). Valse leringe gaan van misleide godsdiensleiers af uit. Indien dit nie uitdruklik weerstaan en verwerp word nie, sal dit die hele deeg (dit is  die gemeente) suur  en onbruikbaar maak (1 Kor. 5:6-8). Is jy dalk met valse leerstellings ingesuur? Indien wel, moet jy dringend hiervan gesuiwer en gereinig word. Die Here Jesus is die ongesuurde brood van die lewe.

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie” (Joh. 3:3). Met hierdie stelling het Jesus ’n streep deur die dooie vormgodsdiens van ’n vooraanstaande teoloog in Israel getrek. Hierdie prediker het gedink dat ’n verbond met God, sonder ’n veranderde hart, genoeg was om jou in die hemel te kry. ’n Verbond wat deur die besnydenis óf die besprinkeling van babas bevestig is, is egter nie genoeg om van iemand ‘n gelowige te maak nie. Net ’n nuwe skepsel, m.a.w. wedergeboorte wat op bekering volg, is die bewys van ’n veranderde lewe (Gal. 6:15; 2 Kor. 5:17).

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie” (Luk. 11:34-35). As ons die Here Jesus geestelik gesproke sien deur die boodskap van sy reddende genade te lees, te hoor, te glo en ook na te volg, dan gaan die lig van sy inwonende teenwoordigheid in ons harte op en verlig ons hele lewe. Hy het gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê” (Joh. 8:12). Indien die oog van die mens, m.a.w. sy waarnemingsvermoë, verkeerd is, sal hy noodwendig verkeerde leringe oor Jesus aanhang en dan as gevolg daarvan in geestelike duisternis wandel. Dit wat hy in glo, is nie die ware lig nie: “Daar is ’n weg wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25). Is jy seker dat die “lig” in jou nie dalk deur die valse “engel van die lig” of een van sy misleide profete opgetower is nie? (2 Kor. 11:13-15).

“Ek is die ware wynstok, en my Vader is die landbouer. Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat vrug dra, dié maak Hy skoon sodat dit meer vrug kan dra… Bly in My, soos Ek in julle… As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog” (Joh. 15:1-6). Hierdie is nie net ’n belofte van geestelike vrugbaarheid aan die gehoorsame dissipels van Jesus nie, maar ook ’n ernstige waarskuwing teen die gevolge van ’n onvrugbare geestelike bestaan. Geloof sonder werke is dood, daarom die ernstige waarskuwing teen ‘n dooie geloof. Elke boom sal aan sy vrugte geken word; die onvrugbares sal uitgekap en verbrand word.

“Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie” (Luk. 12:15). Hierdie is ’n duidelike waarskuwing teen die voorspoedsevangelie van mense wat dink dat ons nou in die koninkryksbedeling leef. Ons is egter reisigers in ’n verbygaande wêreld wat in die mag van die Bose lê. Hierdie wêreld is vir die vuur bestem (2 Pet. 3:10-11), daarom moet ons dinge doen wat ewigheidswaarde het, en sodoende skatte in die hemel bymekaar maak waar mot of roes nie verniel en diewe nie inbreek en steel nie (Matt. 6:19-20). Die najaag van materialisme en aardse skatte lei na geestelike bankrotskap en verwerping deur die Here (Op. 3:15-17; 1 Tim. 6:9-10).

“Pas op vir julself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:34-36). Ons word teen die gebrek aan ’n wederkomsverwagting gewaarsku. Mense wat nie waak en bid en die wederkoms altyd verwag nie, tref nie geestelike voorbereidings om sonder vlek of rimpel voor die hemelse Bruidegom te verskyn nie. Wanneer hierdie blye verwagting vervaag, word die plek daarvan deur bekommernis oor die toekoms, asook deur wêreldse vermaak, ingeneem.

Dit is met baie goeie redes dat ons herhaaldelik in die Bybel teen vervalsings van die geloof gewaarsku word. As ons hierteen waak en seker maak dat ons ten alle tye in Christus en in sy Woord bly, sal ons nie mislei word en geestelik veragter of verval nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s