Ware en Valse Volgelinge van Jesus

Johan Malan, Middelburg (Augustus 2008)

Daar is verskillende beskouings oor die Here Jesus wat deur sy miljoene volgelinge gehuldig word. Hierdie uiteenlopende sienings vorm die grondslag vir ‘n breë spektrum verhoudings wat met Hom gehandhaaf word. Dit sluit ‘n groot groep misleide ‘gelowiges’ in wat vas daarvan oortuig is dat hulle Jesus volg en dien, maar wat glad nie deur Hom as sy eie erken of aanvaar word nie (Matt. 15:8-9). Onder sy ware volgelinge is alles egter ook nie wel nie, want baie van hulle het net ‘n beperkte kennis van Hom en sal weens hulle ontrouheid en halfhartige toewyding beskaamd voor Hom verskyn – hulle sal “nouliks” gered word (1 Pet. 4:18). Dit is dus van die grootste belang om presies te weet waar elkeen van ons met die Seun van God staan, want as genadetyd verby is, sal daar nie meer geleentheid wees om wanverhoudings reg te stel nie.

Uit ‘n geestelike oogpunt kan die volgende groeperings onderskei word onder dié mense wat  hulleself as Christene beskou:

Evangeliese Christene wat heiligmaking nastreef

‘n Evangeliese Christen is iemand wat die Bybelse verlossingsleer ten volle onderskryf. Hy aanvaar die Godheid van die Here Jesus, sy maagdelike geboorte, die geestelike betekenis van sy kruisdood as ‘n versoening vir ons sondes, sy opstanding uit die dood, sy hemelvaart en beloofde wederkoms. Hy erken ook die sondigheid van alle mense en die noodsaaklikheid vir bekering en wedergeboorte (Joh. 3:3). Hy kan getuig van só ‘n ervaring in sy lewe, wat die begin van sy geestelike lewe is. Hierdie persoon is ‘n evangeliese Christen omdat hy nie net met sy verstand in die Bybel glo nie, maar ook ‘n oorgawe gemaak het waarin hy die Here Jesus deur die geloof as sy persoonlike Saligmaker aangeneem het (Ef. 2:8). Dit gaan gepaard met die belydenis van sonde en ‘n veranderde lewe (2 Kor. 5:17), wat kenmerke van ‘n ware gelowige is (2 Kor. 13:5). Sy lewe is op die vaste rots van fundamentele Bybelse waarhede gebou.

Heiligmaking is ‘n inherente deel van die Bybelse verlossingsleer – die Here wil ons nie net red nie, maar ook met sy Heilige Gees vervul (1 Thess. 4:3,7; Ef. 5:18). Daar is duidelik van twee genadewerkinge sprake, naamlik die eerste reiniging van ons sonde (2 Pet. 1:9), en daarna ‘n ondervinding van volkome heiligmaking (1 Thess. 5:23-24). Die tweede ondervinding behels verloëning en kruisiging van ons ou, vleeslike natuur (Luk. 9:23; Gal. 6:14) en die aflê van al sy bose neigings en werke. Wanneer ons aan hierdie voorwaarde voldoen, sal die Here ons met sy Gees vervul, wat ons toenemend met die natuur van Christus sal beklee (Ef. 4:22-24). Vir só ‘n Christen is die Here Jesus nie net sy geregtigheid en verlossing nie, maar ook sy heiligmaking (1 Kor. 1:30). Die inwonende Heilige Gees beoefen volle beheer oor sy lewe, stel hom in staat om oorwinnend te leef deur versoekings te oorwin, en ook om die Here te dien deur werke te doen wat by die bekering pas – dit is die vrug van die Gees.

Evangeliese Christene wat nog vleeslik is

Daar is baie Christene wat werklik gered is maar nog nie met die Heilige Gees vervul is nie. Paulus noem hulle vleeslike gelowiges wat soos klein kindertjies in Christus is. Hulle kan geestelik net met melk gevoed word omdat hulle die dieper dinge van God se Woord (die vaste spyse) nog nie kan verstaan nie (1 Kor. 3:1-3). Omdat sulke mense nog onder die mag van die ongekruisigde vlees is, lei hulle ‘n lewe van val en opstaan. Hulle kan nie deur die Gees wandel nie, omdat die vlees met sy wêreldse hartstogte nog die botoon in hulle lewens voer en hulle van ‘n Geesbeheerde lewe weerhou (Gal. 5:16-17).

Niemand groei vanself uit ‘n vleeslike toestand op na ‘n geestelike Christen nie, omdat die vlees (die ou natuur) nie sonder ‘n volle oorgawe onttroon kan word nie. Sulke Christene ploeter hulle hele lewe lank voort sonder om geestelik volwasse te raak (vgl. Ef. 4:13-14). Die blote verloop van tyd ná jou bekering gaan niks aan die saak verander indien heiligmaking nie doelbewus nagestreef word nie. Paulus was ongelukkig oor jong gelowiges wat nie hierdie stap geneem het om geestelik te begin groei nie: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spys is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei” (Heb. 5:12-14). Die blokkasie van ‘n vleeslike gesindheid moet verwyder word.

Die kenmerke van vleeslike Christene is dat hulle lief vir hulleself en die wêreld is; ’n lae standaard oor sonde en bekering handhaaf; en die Here Jesus net as Verlosser bely, maar geensins daaraan toegewy is om daagliks in sy voetspore te wandel nie. Hulle het bitter min geestelike onderskeidingsvermoë en kan gevolglik maklik mislei word. Hulle volg die Here Jesus net van ’n afstand af, weet betreklik min van Hom af en neem nie toe in kennis en genade nie (2 Pet. 3:18).

Wat gaan van die vleeslike Christene word? Hulle vleeslike werke sal soos hout, hooi en stoppels verbrand terwyl hulle self gered sal word, maar soos deur vuur heen (1 Kor. 3:15). Hulle sal met leë hande voor Christus se regterstoel verskyn omdat hulle net die verganklike dinge van die wêreld nagejaag en uit God se oogpunt nuttelose, onvrugbare lewens gelei het.

Evangeliese Christene met ’n wederkomsverwagting

‘n Sterk wederkomsverwagting lei na ‘n verdere dimensie in die gelowige se verhouding met Christus omdat jy ook met Hom as die hemelse Bruidegom identifiseer. Dit bring ‘n baie groter intimiteit met Hom mee omdat jy jouself geestelik voorberei om as ‘n lid van sy bruidsgemeente vir ewig aan Hom verbind te wees en in sy heerlikheid te deel. Heiligmaking word met groter erns nagestreef omdat ons opgeroep word om op die dag van ons ontmoeting met Hom onberispelik in heiligheid te wees (1 Thess. 3:13 en 5:23).

Paulus herinner die Efesiërs daaraan dat die Here Jesus Homself vir die eerste reiniging van ons sonde én vir ‘n verdere genadewerk van heiligmaking aan die kruisdood oorgegee het, sodat Hy op die dag van sy koms ‘n volmaakte bruid aan sy sy kan hê: “Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

‘n Wederkomsverwagting help om ons van wêreldse begeerlikhede los te maak, vol van die olie van die Heilige Gees te wees, en te leef soos mense wat hulle Koning en Bruidegom enige tyd verwag. Dit help ons om rein harte te hê, hemelse gedagtes te bedink (Kol. 3:1-2) en dinge met ewigheidswaarde te doen. Ook gee dit aan ons ‘n belangstelling in die tekens van die tye omdat ons daarin die naderende voetstappe van die Bruidegom verneem.

Die blye verwagting van die wegraping is ‘n salige hoop waardeur ons ons uitstrek na ‘n lewe van onbeskryflike heerlikheid saam met die Here Jesus (1 Thess. 4:16-17; Titus 2:13). Dit is die goeie nuus in ‘n andersins donker scenario van geestelike verval, verdrukking en groot benoudheid wat vir die laaste dae voorspel is. Die belofte van ontvlugting laat ons moed skep omdat ons vir seker weet dat ons nie vir God se oordele oor die goddeloses bestem is nie (Luk. 21:36; 1 Thess. 1:10 en 5:9). Dit bring groot stabiliteit in ons geestelike lewe, want ons het ‘n sterk verwagting op Christus se koms – ongeag of Hy binnekort kom of dalk eers later.

Verder verleen hierdie verwagting aan ons ‘n groter evangelisasieywer omdat ons weet dat ons beperkte tyd het om die goeie nuus van verlossing by ander uit te kry – veral ook dié wat naby aan ons is. Dit help ons om ons prioriteite reg te bepaal en skatte in die hemel te vergader,  eerder as om met alle mag aardse rykdomme en eer na te jaag. Ons berei aktief voor om by die regterstoel van Christus rekenskap van ons aardse lewens te gee (Rom. 14:10-12).

Evangeliese Christene sonder ’n sterk wederkomsverwagting

Daar is baie Christene wat ernstig met hulle geloofslewe is, maar nogtans ontbreek die liefdesavontuur van ‘n verhouding met die Here Jesus, wat as aansporing bedoel is om absoluut getrou te bly en ons beste te gee vir Hom met wie ons by die bruilof van die Lam verenig gaan word. Sonder hierdie motivering kan dit maklik gebeur dat ‘n Christen sy ywer vir die Here begin verloor omdat hy nie sy hoë roeping in Christus, én sy hemelse bestemming, duidelik besef nie.

Die gebrek aan ‘n duidelike wederkomsverwagting gaan gewoonlik gepaard met ‘n gebrekkige begrip van die verskillende dispensasies in die Bybel – veral dié wat nog voorlê. Christene behoort te weet dat die Here Jesus sy bruidsgemeente aan die einde van die kerkbedeling kom haal, waarna die bedeling van die Antichris se sewe jaar lange regering sal aanbreek. Dit sal deur die sigbare koms van Jesus Christus en sy heiliges op die Olyfberg beëindig word (2 Thess. 2:6-8; Sag. 14:4-5), waarna die bedeling van die duisendjarige vrederyk op aarde sal aanbreek (Hand. 15:16-17; Op. 20:6). Die koninkryk waarin ons saam met Christus sal regeer (Op. 5:9-10), is dus nog toekomstig en sal eers ná sy wederkoms aanbreek. Tans is ons vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19).

Christene wat nie hierdie dispensasionele feite in ag neem nie, verval maklik in die dwaling van die koninkryksteologie. Hulle meen dit is hulle opdrag om nóú, voor die wederkoms, ‘n Christelike koninkryk op aarde te vestig. Ten einde ‘n verenigde Christendom daar te stel wat die wêreld kan oorneem en regeer, volg hulle die weg van eindelose kompromie.  Die volgende dwalings vloei hieruit voort:

·       Ekumeniese bande word gesmee sodat Protestantse kerke, onafhanklike kerke én die Rooms-Katolieke kerk kan saamwerk. Weens dogmatiese verskille tussen kerke word die definisie van Christenskap tot op ‘n gevaarlike lae vlak afgewater om vir almal aanvaarbaar te kan wees. Dit skep ruimte vir ‘n naamchristendom waarin niemand se redding of heiligmaking bevraagteken word nie, omdat dit net aanstoot kan gee.

·       In ekumeniese groepe word persoonlike heiligheid nie as ‘n doelstelling nagestreef nie, maar wel koninkrykshervormings in die samelewing. Dit gaan dus meer oor die mens-medemens-verhouding as oor die mens-God-verhouding. Allerlei hindernisse vir eenheid en voorspoed moet uit menslike samelewings verwyder word, bv. swak verhoudings, onverdraagsaamheid, siekte, armoede, werkloosheid, diskriminasie en politieke verontregting.

·       Geen Bybelse eskatologie word hier verkondig nie, omdat die wegraping, die verskyning van die Antichris, die groot verdrukking en die slag van Armageddon tydens Christus se wederkoms gladnie met hulle koninkryksvisie versoen kan word nie. Daar word dus nie ‘n meer intieme verhouding met die Here Jesus opgebou nie, en ook nie regtig vir sy wederkoms voorberei nie – net vir gelukkige en harmonieuse aardse samelewings.

Teruggevalle Christene

Daar is baie Christene wat hulle verhouding met die Here Jesus deur leerstellige dwalings of as gevolg van morele sondes verswak en uiteindelik verbreek (1 Tim. 4:1; Heb. 3:12). Ons het ‘n absolute verpligting om in Christus te bly as ons enigsins op ‘n verhouding met Hom wil aanspraak maak. Hy bly getrou, maar daar is altyd die moontlikheid dat ons ontrou kan raak en van Hom af wegbeweeg. Jesus het sy dissipels hierteen gewaarsku: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie … As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand” (Joh. 15:4,6). Ons geniet voorwaardelike ewige sekerheid in Christus. Indien ons sou ophou om aan hierdie voorwaardes te voldoen, bewerk ons ons eie ondergang.

Daar is ongelukkig baie voormalige Christene wie se verhouding met die Here Jesus heeltemal deur hulle afvalligheid verbreek is. Eers koel hulle af in hulle liefde en dryf geleidelik van Hom af weg (Matt. 24:12). Hulle word dan vleeslike Christene wat vir die wêreld liewer is as vir die Here Jesus (1 Kor. 3:1-3; Gal. 3:3). Indien hierdie proses nie gestuit word nie, kan hulle hul eerste liefde heeltemal verlaat en verloor (Op. 2:4-5). Diegene wat van die genade verval het, is nie meer in Christus nie en sal deur Hom verwerp word wanneer Hy kom.

‘n Getuienis met die mond sal niks help as die betrokke persone nie in Hom bly en daagliks met Hom wandel nie. Johannes waarsku sy bekeerlinge om nie van Christus afvallig te raak nie: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28). Ons moet teen geestelike verval waak omdat dit verwoestende gevolge in ons lewe kan hê: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit jul eie vastigheid nie” (2 Pet. 3:17).

As jy reeds op die pad van sonde weggedwaal het, kom tot inkeer en maak soos die verlore seun wat in dieselfde situasie was. Hy het gesê: “Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u” (Luk. 15:18). Hy is volkome vergewe en weer ten volle in die huis van sy vader herstel. Gebroke verhoudings kán herstel word. Petrus is ook geestelik herstel nadat hy die Here Jesus drie maal verloën het. Berou en bekering is al wat nodig is.

Vormgodsdienstiges

Daar is ook baie naamchristene wat net ‘n gedaante van godsaligheid het (2 Tim. 3:5). Hulle is lidmate van kerke en gee voor om Christene te wees, maar in werklikheid woon die Heilige Gees nie in hulle harte nie. Hulle verbintenis met Christus word dikwels na kerklike rituele soos doop en Nagmaal herlei, of ondervindings soos talespreek, liggaamlike genesing, lag in die gees of val in die gees. Al hierdie dinge kan egter nie hulle onwedergebore harte en stand van geestelike doodsheid voor die Here verander nie. In hierdie geestelike toestand kan hulle geen ware verhouding met die Here Jesus handhaaf nie; nogtans verklaar hulle hulself salig en hulle misleide leraars doen dit ook. As gevolg van hulle eiegeregtigheid probeer dié mense om goed te leef en ondersteun ook die kerk aktief – veral finansieel.

Nie almal wat voorgee om godsdienstig te wees, is in werklikheid gelowige dissipels van Jesus Christus nie. Wanneer hulle voor die Here Jesus sal verskyn om deur Hom geoordeel te word, sal hulle nogtans daarop aanspraak dat hulle Hom geken én gedien het. Hoewel hulle deur hulle skynheiligheid die mense kon bedrieg, sal hulle nooit by Christus verbykom nie. Hy sê die volgende oor hierdie mense, onder wie daar beslis ook predikante sal wees: “Baie sal daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie? Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af” (Matt. 7:22-23; NAV).

Ongeredde naamchristene is ‘n oop teiken vir Satan, en hy maak terdeë van die geleentheid gebruik om groot groepe Christene deur sy verdorwe “engele van die lig” te mislei en in die naam van Jesus op ‘n dwaalweg te plaas (2 Kor. 11:13-15). Deur okkultiese kragte stel hy die valse leraars in staat om wonderwerke te kan doen (Matt. 24:11,24). Hulle lidmate en volgelinge is gewoonlik hoogs beïndruk hiermee en beskou hulle grootdoenerige leiers as gesalfde manne van God. Hulle wil niks daarvan weet dat hierdie predikers hulle mislei nie. Die Bybel waarsku ons telkens dat die valse profete groot aanhang sal geniet (Matt. 24:5,24; 2 Pet. 2:1-2).

Al hierdie misleide ‘gelowiges’ sal agterbly wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal. In die verdrukking sal hulle nog verder deur die Antichris en valse profeet met “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” mislei word (2 Thess. 2:8-12; Op. 13:1-18).

Die uitdaging

Maak baie seker dat jy weergebore is en werklik ‘n verhouding met die Here Jesus het. Streef daarna om Hom nie net as jou Verlosser te ken nie, maar ook as jou heiligmaking, Leidsman, Koning en hemelse Bruidegom. Versterk hierdie verhouding deur op te groei in die genade en kennis van die Here Jesus (2 Pet. 3:18). Bewaar sy woorde in jou hart dat jy teen Hom nie sal sondig nie, en oordink sy opdragte dag en nag. Wandel in die lig en ervaar die voortgesette reiniging van alle sondes deur sy kosbare bloed (1 Joh. 1:7).

As jy die kennis van die Here najaag, sal jy meer en meer soos Hy word. Hy het gesê: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Pet. 1:16). Dit vind net plaas deur die weg van sterwe en opstanding in ‘n nuwe lewe. Paulus het die groot doel van sy lewe só beskryf: “Sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10). Die kennis van Christus stel aan ons die eis van gelykvormigheid aan sy dood en opstanding. Ons lewe moet by die kruis begin, en daarna moet ons die Here vertrou om ons deur sy Heilige Gees met die opstandingslewe van Christus te beklee.

Hierna volg daar ‘n lewenslange proses van groei en kennis en genade. Jesus het aan sy volgelinge gesê: “Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê … As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak … As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:12,31,32,36). Die Heilige Gees is ons leermeester wat ons aan al die Here Jesus se woorde herinner (Joh. 16:13-14).

Ervaar jy die vrymakende krag van Christus se Woord in jou lewe? Alleenlik dit sal vastigheid in jou lewe bring sodat die duiwel en sy valse profete jou nie sal kan mislei nie. Paulus sê ons moenie meer kinders wees “wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” nie (Ef. 4:14). Die woorde van Christus moet ryklik in ons woon (Kol. 3:16).

Kennis van die Heilige Skrif lei na groter kennis en ’n beter verhouding met die Here Jesus wat die vleesgeworde Woord is (Joh. 1:14). Die Heilige Gees maak ons meer en meer van Hom bewus wanneer ons Bybelstudie doen. Hierdie kennis maak ons as mense van God volkome, vir elke goeie werk volkome toegerus (2 Tim. 3:15-17). Ken Hom in ál jou weë dan sal Hy jou paaie gelykmaak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s