Sewe Gedaantes van die Vyand

Johan Malan, Mosselbaai (Mei 2015)

Die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 is toegespits op belangrike aspekte van die voortgaande stryd tussen die koninkryk van God en die vyandige ryk van Satan. Dissipels van Christus moet bewus wees van die groot stryd vir die beheer oor hulle siele, en die nodige stappe doen om te voorkom dat hulle geestelik verblind en mislei word deur die duiwel. Hy is die selfverklaarde god van ʼn moreel vervalle en godsdienstig verwarde wêreld, en is vasberade om mense weg te hou van die Here Jesus wat die ware Verlosser en Koning van die wêreld is (2 Kor. 4:4). Uit die verborge dieptes van die koninkryk van die duisternis word voortdurend nuwe maniere bedink om mense deur valse leerstellings weg te lok van die waarheid van die Here en sy Woord sodat hulle geestelik op ʼn dwaalspoor kan beland en in die verleier se mag val. Hy en sy medewerkers gebruik ook ʼn groot verskeidenheid harde metodes soos vervolging, geweld en intimidasie om hulle mag af te dwing.

Deur menslike vernuf alleen sal ons nie staande kan bly teen die aanslae van die Bose nie, maar ons is nie alleen in hierdie groot stryd nie. Jesus Christus is die Hoof van die kerk en het die versekering gegee dat die poorte van die doderyk nie sy kerk op aarde sal oorweldig nie (Matt. 16:18). Hy het aan ons die genademiddels wat terselfdertyd as ʼn geestelike wapenrusting dien, voorsien sodat ons in die intense geestelike oorlog wat rondom ons woed, oorwinning kan behaal en ook vordering kan maak in die bereiking van ons doelwit om die evangelie wêreldwyd te verkondig. Die mikpunt van alle Christene moet wees om geestelik sterk te wees en die wedloop van hulle geloofslewe as oorwinnaars te eindig (Ef. 6:10; Heb. 12:1-2).

Die sewe gemeentes is tipiese voorbeelde van die wêreldwye kerk van Christus, maar die duiwel is ʼn meester in die kuns van verleiding en benader elkeen van hulle in ʼn verskillende vermomming. Dit is belangrik dat Christene van sy uiteenlopende gedaantes en strategieë bewus sal wees sodat hulle sy bose werke kan openbaar, sy sluwe metodes kan teëstaan, en voordurend daarna sal streef om toe te neem in die genade en kennis van Christus. Hy alleen kan hulle toerus met krag uit die hoogte sodat hulle meer as oorwinnaars kan wees. In die sewe briewe beskryf Christus Homself, sowel as sy krag en genade om tot ons redding te kom, op maniere wat verband hou met die spesifieke probleme wat elke gemeente ervaar. Ons hoef nooit die onderspit te delf in die aanvalle van die vyand nie.

Éfese – ingedring deur die “engel van die lig”

Een van die strategieë wat die duiwel sedert die vestiging van die Christelike kerk gevolg het, was om gemeentes in te dring deur sommige van sy medewerkers wat voorgee om toegewyde en Godvresende manne te wees wat die belange van die kerk van Christus op die hart dra. Hulle toon hulle verbintenis tot die suiwer leer deur onbybelse leerstellings te weerstaan en valse profete te verwerp wat sekere nuwe idees probeer verkondig. Ongeag hulle vroom gedrag verswyg hierdie nuwe geslag predikers egter die kern van die Christelike geloof, naamlik wedergeboorte op grond van Christus se soendood. Op ʼn baie subtiele en ongemerkte wyse vervang hulle ʼn lewegewende ontmoeting met Christus deur kerklike rituele, en bied sodoende volwaardige kerklidmaatskap aan op grond van doop, geloofsbelydenis en aanneming. Die afwesigheid van die vrug van die Gees word vergoed deur die bevordering van goeie werke van ʼn menslike oorsprong wat onder die beheer van die kerk gedoen word, en nie noodwendig onder die leiding van die Heilige Gees nie.

Op hierdie manier word die liefde van Christus wat in ʼn voormalige evangeliese gemeente ervaar is, later vervang deur liefde vir die kerk, asook vir baie gewilde leraars wat so mooi en nieveroordelend preek dat hulle bediening groot byval vind by ʼn nuwe geslag van vleeslike gelowiges. Sulke kerke is gewoonlik aktief en trek baie nuwe lidmate. Wat sê Christus oor dié “nuwe liefde” wat mense aanspoor om net die kerk te dien? Hy is beslis nie beïndruk deur hulle uiterlike vertoon en toewyding aan die kerk nie, want dit lewer net dooie werke op wat uit onweergebore harte voortkom: “Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).

Die predikers wat hierdie transformasie van Geesbeheerde toewyding na ʼn vorm van mensbeheerde godsdiens in die vlees teweegbring, is valse leraars wat net voorgee om ware gelowiges te wees: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ʼn engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor. 11:13-15). Paulus het die jong gemeente in Éfese gewaarsku dat volgelinge van die “engel van die lig” uit hulle eie gemeente na vore sou kom en daarin sou slaag om die meerderheid lidmate te mislei: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Hand. 20:29-30). Diegene wat na hierdie misleiers luister, word volgelinge van mense, eerder as volgelinge van Christus.

Die “engel van die lig” en sy valse profete verkondig dikwels Christus se voortreflikhede om lidmate gelukkig en niksvermoedend te hou, maar hulle beklemtoon nooit die gevaar van sonde, die soendood van Christus, sy opstanding, asook die feit dat Hy deur die inwoning van die Heilige Gees ʼn lewende werklikheid is nie. Vir sulke misleide gelowiges word die kerk die enigste kanaal waardeur God se genade toegereken word, en dit verklaar waarom die kerk, eerder as Christus, mense se eerste liefde word. Johannes herinner ons daaraan dat Christus “ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed” (Op. 1:5). Hy is ons eerste liefde, en diens aan Hom is die “eerste werke” wat ons behoort te doen. Die nuwe geslag gelowiges in Éfese het egter sowel hulle eerste liefde as hulle eerste werke verlaat. Hulle het primêr die kerk liefgehad en gedien. Lidmate word opgeroep om hulle van hierdie misleidende opvattings te bekeer, na hulle eerste liefde (die Here Jesus self) terug te keer en weer die eerste werke te doen.

Gedurende die afgelope byna tweeduisend jaar van kerkgeskiedenis het talle evangeliese kerke wat ʼn goeie begin gemaak het, hulle evangeliese karakter verloor en in ʼn dooie vormgodsdiens verval. Dit is duidelik dat ouderlinge in sulke gevalle nie genoegsaam toesig gehou het oor die leerstellige aard van die prediking nie (Hand. 20:27-28). Daardeur is ruimte geskep vir die vestiging van die vyand se misleidende leerstellings en lewelose gedaante van godsaligheid.

Smirna – gewelddadige konfrontasie deur die mensemoordenaar

Satan openbaar homself dikwels in sy ware natuur as ʼn mensemoordenaar, en dit kan gesien word wanneer hy sy volgelinge aanhits om mense genadeloos uit te wis. Hy was veral daarop ingestel om Jesus tydens sy eerste koms dood te maak. Satan het gebruik gemaak van die geestelik misleide godsdiensleiers van Israel om Jesus te vervolg en uiteindelik tereg te stel, nadat hulle sy aanspraak verwerp het dat hy die beloofde Messias van Israel was. Jesus het baie goed geweet wie agter hierdie haatveldtog teen Hom was, en aan sy teëstanders gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was ʼn mensemoordenaar van die begin af …” (Joh. 8:44). Die duiwel se gewelddadige natuur het nooit verander nie, en ná die kruisiging van Jesus het hy planne in werking gestel om al die dissipels om die lewe te bring en ook die vroeë Christelike kerk uit te wis.

Almal behalwe één van Christus se dissipels het as martelare vir hulle geloof gesterf – die enigste uitsondering was Johannes – en martelaarskap was ook die lot van talle Christene in die Romeinse Ryk. Hierdie heidense koninkryk het Christene vervolg en tereggestel omdat hulle in ʼn “ander koning” as die keiser geglo het. Die finale aanhitser van boosheid is egter die duiwel, en dit is waarom Jesus die gelowiges in een van hierdie vervolgde gemeentes versterk en aangemoedig het om hulle lot te aanvaar en aan te hou om die duiwel te weerstaan, selfs tot die dood toe: “Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Op. 2:10).

Die tien dae van bloedige vervolging verwys waarskynlik na die vervolging van Christene gedurende die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers – van Nero in 64 n.C. tot Diokletianus in die jaar 305 n.C. Ná die ontbinding van die Romeinse Ryk het daar ʼn lang periode van die vervolging en teregstelling van evangeliese Christene gevolg wat nie die gesag van die pous erken het nie. Tallose Christene het gedurende die Donker Middeleeue as martelare gesterf. Hierdie bose veldtog is later voortgesit deur verskeie heidense volke en kommunistiese state, asook radikale Islamitiese regerings en terroristegroepe. Gedurende die komende verdrukking sal die vervolging van Christene tot ongekende hoogtes opvlam. Johannes sê oor die Antichris: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Baie van die martelare sal vasstaan omtrent hulle Christelike getuienis en weier om die knie te buig voor hierdie diktator, selfs al beteken dit om vir Christus te sterf (Op. 12:11). In die hemel sal hulle Christus smeek om hulle dood te wreek op die Antichris en sy moordbendes (Op. 6:9-11).

Dit is met die oog op hierdie volskaalse oorlog dat Petrus sê: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ʼn brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5:8-9). Die intensiteit van Satan se vyandigheid ken geen perke nie, want as mensemoordenaar was dit nog altyd sy doel om mense dood te maak. Die aanblaas van revolusies, terrorisme en oorloë (ook godsdienstig gemotiveerde oorloë wat spruit uit ernstige geestelike misleiding), aanhitsing tot geweld, aanrandings, marteling, misdaad, komplotte en sameswerings teen verskeie belangegroepe, asook die vestiging van donker gedagtes wat kan lei tot selfmoord, word alles deur die duiwel gebruik om uiting aan sy moorddadigheid te gee. Hy het nie onbeperkte mag oor mense nie, maar daar is miljoene individue, asook talle heidense nasies, wat doelbewus met die beginsels van sy koninkryk assosieer. Hulle verkies om self geweld en oneerbare metodes te gebruik om hulle bose belange te bevorder, en dit gee aan die duiwel die geleentheid om sy oorloë te voer en mense te verslaaf, tot onderhorigheid te dwing of dood te maak. Uit die aard van die saak is Christene dikwels die teiken van die brullende leeu wat net kyk wie hy kan verslind.

Die boodskap aan die vervolgde Christene deur die eeue heen is dat hulle nie dié mense moet vrees wat net hulle liggame kan doodmaak en nie hulle siele nie (Matt. 10:28). Vertrou in Hom wat dood was en leef tot in alle ewigheid (Op. 1:18). Deur sy dood het Hy die brullende leeu oorwin (Heb. 2:14), en in Hom het ons die ewige lewe. Die tweede dood (die ewige dood in die hel) kan nooit mag verkry oor ware gelowiges nie (Op. 20:6).

Pérgamus – onderworpenheid aan ʼn bose leier wat daarop aanspraak maak dat hy die god van hierdie wêreld is

Gedurende die hele kerkbedeling is ons betrokke by ʼn geestelike oorlog wat van verskillende fronte af gevoer word: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil” (Ef. 6:12-13). Lucifer is uit die hemel gegooi, waar hy so hoogmoedig geraak het dat hy homself bó God verhef het: “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God. … Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!” (Jes. 14:12-15). Voor Lucifer se finale oordeel gaan hy voort om God se oppergesag uit te daag en groot skade aan die belange van die koninkryk van die hemel aan te rig.

Op die aarde doen Lucifer alles moontlik om homself as ʼn god te vestig wat wêreldwyd deur alle nasies aanbid sal word. Al die valse godsdienste het van hom af uitgegaan, gekamoefleer in verskillende vorms van afgodediens, voorvaderaanbidding en die beoefening van magiese kragte. Die heidense volke is onbewus daarvan dat hulle in werklikheid besig is om die duiwel te dien. Paulus bevestig hierdie onregstreekse vorm van die verering en aanbidding van die duiwel: “Wat sê ek dan? Dat ʼn afgod iets is, of dat ʼn afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie” (1 Kor. 10:19-20). Elkeen wat aan hierdie offers en feeste deelneem, hou gemeenskap met duiwels wat gevalle engele is wat saam met Lucifer uit die hemel gewerp is en sedertdien sy diensknegte is.

Die duiwel verander soms sy strategie van die vervolging na die misleiding van Christene sodat hulle kompromie met die nie-Christelike gelowe kan maak en met hulle handevat om die universele god van alle gelowe te aanbid. Hy weet baie goed dat wanneer hulle dit doen, hulle die ware God verloën en deelneem aan die verering van ʼn vreemde god. Paulus sê dat die god van hierdie wêreld (die duiwel) mense se sinne verblind het sodat hulle nie kan besef dat Jesus die Verlosser van die wêreld is nie (2 Kor. 4:4). Intergeloofsalliansies het met tussenposes regdeur die kerkgeskiedenis voorgekom.

In die Romeinse Ryk het keiser Konstantyn die vervolging van Christene afgeskaf en ʼn tydperk van intensiewe interaksie tussen die Christendom en heidense gelowe in sy ryk ingelui. Dit het tot ʼn proses van sinkretisme aanleiding gegee waarin die kerk verskeie heidense feeste gekersten en oorgeneem het. Hieronder was die fees ter ere van die songod (Sol Invictus, die Onoorwinlike Son) op 25 Desember, wat later as Kerfeesvieringe gevestig geraak het. Die belangrikste kenmerke van die oorspronklike heidense fees was eet en drink in oormaat, asook die uitruil van geskenke onder mekaar om hulle vreugde te toon omdat die son in die middel van die noordelike halfrond se winter begin terugdraai het om ʼn nuwe somerseisoen in te lui. ʼn Ander vervorming het plaasgevind toe die Bybelse Paasfees met die heidense fees vir die lentegodin vermeng geraak het. Die Engelse term “Easter” is van die Germaanse woord Ostara of Eostre afgelei, en die simbole van hierdie heidense fees was eiers en hasies. Die Bybelse Paasfees het egter ander simbole en is vervul deur die dood en opstanding van Christus, en dit bring nuwe lewe in die siel van die mens.

Pérgamus was ʼn bose, wêreldse stad wat deur Jesus beskryf word as die troon en woonplek van Satan (Op. 2:13). Die kerk het in verskeie opsigte duiwelse instellings aanvaar en selfs aan heidense feeste deelgeneem. Sodoende het hulle kompromie met hierdie gelowe gemaak en hulle skaamteloos skuldig gemaak aan “die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ʼn struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet” (Op. 2:14). Hulle het die uitnodiging aanvaar om intergeloofsbyeenkomste by te woon en aan die seremonies daarvan deel te neem.

Christus herinner die gemeente daaraan dat hoewel die duiwel groot invloed oor die ongeredde wêreld het, Hy (Jesus) God se Seun is met ʼn tweesnydende swaard wat sy opperheerskappy in die heelal simboliseer. Wanneer Hy weer kom, sal dit as Koning van die konings en Heer van die here wees, en dan sal Hy teen die goddeloses en ongeredde rebelle veg met die swaard wat uit sy mond uitgaan. Die verborge manna waarmee Hy sy dissipels voed, verwys na die ware evangelie wat nie altyd maklik is om te vind in ʼn wêreld wat vol misleide kerke en ʼn oormaat misleidende Christelike lektuur is nie. Christus het beloof om gou weer terug te keer, en dan sal alle valse leerstellings geopenbaar en vernietig word. God sê: “In dié dag … sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 13:2). Satan en sy demone sal dan in ʼn bodemlose put gebind wees (Op. 20:2-3).

Thiatíre – navolging van die misleier van die nasies en sy baie valse profete

Die duiwel is die verleier van die nasies, en hy maak gebruik van ʼn groot aantal valse profete en valse leraars om sy doel te bereik. Die kerk in Thiatíre het so liberaal, ekumenies en afwykend geraak dat hulle ʼn valse profetes toegelaat het om ʼn groot aantal Christene te mislei: “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isébel, wat haarself ʼn profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Op. 2:20).

Afgesien van die verspreiding van intergeloofsmisleiding is daar nie ʼn enkele Bybelse leerstelling wat nie deur die valse profete verloën, verdraai of verkeerd verklaar word nie – veral die leerstellings oor Christologie en die versoening. Petrus sê: “Maar daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ʼn vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid belaster word. … Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid dié wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ʼn mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ʼn slaaf geword” (2 Pet. 2:1-2, 18-19).

Die lidmate van misleide kerke, soos dié in Thiatíre, word gewaarsku dat indien hulle hul nie bekeer van dwalings en sonde nie, hulle tydens die wegraping sal agterbly en oorgelewer sal word aan Satan se valse christus, wat hulle hewig sal verdruk en vervolg (Op. 2:22).

Christus is die ware Profeet wat oë het soos ʼn vuurvlam, met voete soos blink koper wat gloei soos in ʼn oond. Niks is vir sy oë verborge nie en Hy weet alles. Hy het ʼn oplossing vir alle probleme en het deur die vuur van God se oordele oor die sondes van die mensdom gegaan, daarom kan Hy ons vryspreek van die toorn van God. Die oorwinnaars sal saam met Christus in sy koninkryk regeer, terwyl die tydelike koninkryk van die valse profete – wat op die sewe jaar lange koninkryk van die Antichris sal uitloop – totaal vernietig sal word (Op. 19:19-20).

ʼn Wonderlike belofte word aan die oorwinnaars gegee: “En Ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie [valse] leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ʼn ysterstaf. … En Ek sal hom die môrester gee. Wie ʼn oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Op. 2:24-29). Die oorwinnaars sal saam met Christus regeer in sy koninkryk, en hulle het reeds die Môrester in hulle harte wat die belofte van ʼn wonderlike toekoms inhou (vgl. Op. 22:16).

Sardis – vernietigende invloed van die doodsengel

Satan is die meester van leë beloftes, valse skyn en misleidende leerstellings, daarom is hy vir miljoene mense uit alle gelowe die doodsengel wat net een doel voor oë het en dit is om ʼn oes vir die doderyk in te samel. Hy verbloem egter aan alle misleide mense die eindbestemming van die pad waarop hulle is, en laat hulle inteendeel dink dat alles reg is: “Daar is ʼn weg wat vir ʼn mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spr. 16:25). Dit is op hierdie pad dat Satan sy slagoffers begelei – nie na die ewige lewe soos wat aan hulle belowe word nie, maar na die ewige dood. In Christelike gemeenskappe stel die duiwel homself ten doel om gemeentes tot stand te bring waarin allerlei sondes en vleeslike hartstogte die botoon voer, maar waarin mense steeds ʼn uiterlike skyn van Christenskap verkry en dink dat hulle hemel toe gaan. Paulus beskryf ʼn klug van hierdie aard baie duidelik, en beveel ware Christene om van sulke gemeentes af weg te vlug:

“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar [moeilike, veeleisende] tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ʼn gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5).

Die doodsengel is duidelik aan die werk hier! Die Here Jesus sê aan ʼn gemeente van dié aard in Sardis: “Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood” (Op. 3:1). Die skyn van Christenskap wat op kerklidmaatskap alleen berus, kan baie misleidend wees. In die geval van die hedendaagse Sardis is dit ook so, want onder die groot meerderheid van die lidmate is daar geen aanduiding van die Heilige Gees se werk van sondeoortuiging en wedergeboorte nie – nog minder van gelowiges wat met die Heilige Gees vervul is en deur die Gees wandel.

Christus herinner die gemeente van Sardis – en elke sodanige gemeente – dat Hy die sewe Geeste van God het (die volheid van die Heilige Gees), en dat net Hy aan sterwende sondaars die ewige lewe kan gee. Diegene wat die bose aanslag deur middel van ʼn valse en lewelose godsdiensvorm oorwin en nie daardeur besoedel word nie, sal in wit klere saam met Christus wandel en hulle name sal nooit uit die boek van die lewe gewis word nie. Wat die dooie lidmate van die gemeente betref, is dit voorbarig van hulle om aan te neem dat hulle name in die boek van die lewe verskyn net omdat hulle aan ʼn kerk behoort. Die verleier van die nasies sal hulle aanmoedig om so ʼn siening te huldig, maar daar sal ʼn dag kom wanneer dit hulle bitter sal berou omdat hulle na hom en sy plaaslike verteenwoordiger (die geestelik dooie predikant van die gemeente) geluister het en nie op die oortuigingswerk van die Heilige Gees ag geslaan het nie.

Filadelfia – weerstand teen die valse christus en sy valse evangelie

Jesus Christus prys die gemeente in Filadelfia omdat hulle getrou gebly het aan Hom en sy Woord, ten spyte van die hoë prys van sosiale verwerping en die gebrek aan genoegsame finansiële ondersteuning wat hulle moes betaal: “… want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Die duiwel was gedurende die eerste eeu al aktief besig om valse voorstellings van Jesus te bevorder, waardeur mense geestelik verblind is sodat hulle voorberei kon word om die vervalste christus van die eindtydse sataniese nuwe wêreldorde te aanvaar. Paulus het vir een van die groot gemeentes van daardie tyd gesê: “Want ek is jaloers oor julle met ʼn goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ʼn reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ʼn ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ʼn ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ʼn ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4). Dit is niks minder nie as sataniese misleiding wat in die naam van Jesus (ʼn ander Jesus) verkondig word.

Die klein gemeente in Filadelfia het hierdie ernstige vorm van misleiding wat van vroeg in die kerkbedeling al wydverspreid onder gemeentes voorgekom het, weerstaan. Die gebrek aan geestelike onderskeidingsvermoë het deur die eeue heen voortgeduur, en sal uiteindelik lei tot die wêreldwye aanvaarding van die duiwel se valse christus: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier [die Antichris] aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Op. 13:3-4).

Diegene wat die valse christus aanbid, sal ook die valse god van hierdie wêreld aanbid – dit is die universele god van alle gelowe, die duiwel (2 Kor. 4:4). In sy sendbrief noem Johannes ook hierdie soort misleiding: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dít is die Antichris wat die Vader en die Seun loën” (1 Joh. 2:22).

Christus is die lewende Seun van God, wat heilig en waar is. Net Hy kan deure oop- en toemaak. Hy is volkome in staat om sy diensknegte te bemagtig om staande te kan bly teen die liste van die duiwel. As hulle aanhou om die valse god van hierdie wêreld te weerstaan en te verwerp, en spesifiek ook die gees van sy valse christus, sal hulle die komende verdrukking ontvlug en nie onder die onderdane van die Antichris wees nie: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in (letterlik: uit) die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel” (Op. 3:10). Wanneer Christus as Koning terugkeer aarde toe, sal hulle saam met Hom in sy koninkryk regeer.

Laodicéa – onder die beheer van Mammon, die god van rykdom

In die gemeente van Laodicéa het daar ʼn gees van hoogmoed, arrogansie en vertroue op eie vermoëns geheers. Hulle was vol van hulleself en het net in hulle eie grootheid geroem. Dit was humanisme in sy uiterste vorm, en ons weet dat die duiwel op die troon van elke gevalle mens se hart sit. Hulle ingesteldheid en leefwyse was so verwerplik vir die Here dat Hy Homself heeltemal van hulle gedistansieer het: “Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:16-17). ʼn Onrusbarende toestand heers in hierdie en elke soortgelyke gemeente. As gevolg van hulle humanistiese oriëntasie het hulle slegs ʼn horisontale visie van godsdiens wat op die sosio-ekonomiese aspekte van hulle bestaan gebaseer is. Die vertikale, mens-God-verhouding ontvang feitlik geen aandag nie omdat die humanistiese en selfgerigte mens (veral in die moderne era) sy eie god en gevolglik die bepaler van sy eie lotgevalle geword het.

Die filosofie wat hierdie ryk mense aanvaar het, is onaanpasbaar by die Christelike geloof omdat sulke mense diensknegte is van die geldgod, die duiwel. Jesus het gesê: “Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!” (Matt. 6:24).

Mammon mag dalk die god van hierdie gevalle wêreld wees, maar hy is ʼn oorwonne vyand wat spoedig gestroop sal word van al die mag en invloed wat hy oor miljoene misleide mense verkry het. Jesus Christus is “die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God” (Op. 3:14). As die “Amen” (“mag dit so wees”) is Hy met oppergesag in God se skepping beklee, en daarom volkome in staat om al God se beloftes aan ons te vervul: “Want hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons” (2 Kor. 1:20). As jy aanhou om Hom te volg en in sy naam oorwinnings oor die vyand te behaal, sal jy in sy koninkryk saam met Hom regeer: “Aan Hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Op. 3:21).

Is jy een van die oorwinnaars wat nie op ʼn dwaalweg gelei is deur die Bose in een van sy baie vermommings waardeur hy mense nader, mislei, beheer en uiteindelik vernietig nie? Jesus sê van elke oorwinnaar: “Ek sal hom ʼn pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie …” (Op. 3:12). As Christene dra ons die naam van Christus. Kan mense in jou lewe, in jou ingesteldheid en gedrag sien dat jy waarlik aan Hom behoort en Hom met jou hele hart dien? Indien wel, volhard dan tot die einde toe. Indien nie, kom dan tot bekering terwyl die geleentheid in hierdie laat uur nog aan jou gebied word.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s