Die Vyeboom en Jerusalem

Johan Malan (Oktober 2007)

Die duidelikste van alle tekens van die tye is die herstel van die volk Israel in hulle eie land, en spesifiek ook die herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad. Die Here Jesus verwys duidelik hierna in sy profetiese rede:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is… Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid. En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is. Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is. So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur. Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie” (Luk. 21:20-32).

In dié gedeelte het ons twee vaste en duidelike tekens van die eindtyd: die bot van die vyeboom, dit is die terugkeer van Israel na hulle land, asook die herstel van Jerusalem as hulle hoofstad. Hulle is albei duidelik omskrewe tekens wat net eenmalig in die eindtyd vervul word. Wanneer ons dit sien gebeur, moet ons na bo kyk en vir seker weet dat ons verlossing naby is.

Wanneer ons die herstel van Israel sien, moet daar ‘n groot blydskap in ons harte wees omdat daar so baie beloftes hieroor in die Bybel is. Ons moet beslis die hand van die Here hierin sien. In Esegiël 37:21 sê die Here: “Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land.” Die Here gebruik ook verskeie simbole om die dieper betekenis van Israel se verstrooiing en herstel aan ons te verduidelik.

Die vyeboom

Clarence Larkin sê in sy boek, Dispensational Truth, bl. 156: “Die vyeboom is ‘n Nuwe Testamentiese simbool van die volk Israel, wat deur die Here Jesus self gebruik is.” Hierdie simbool word in die Ou Testament ook gebruik.  In Hosea 9:10 sê die Here van Israel: “Ek het julle vaders gesien soos voorvye aan die vyeboom in sy eerste groei.” In Jeremia 24:5 sê Hy: “Soos hierdie goeie vye, so sal Ek ten goede aansien die ballinge van Juda wat Ek uit hierdie plek na die land van die Chaldeërs weggestuur het.”

In Mattheus 21:18-19 het Jesus, op pad na Jerusalem, ‘n vyeboom vervloek omdat dit onvrugbaar was. ‘n Vyeboom ontwikkel tegelyk vrugte en blare. Teen die tyd dat die blare groot is, behoort daar reeds ryp vrugte aan die boom te wees. Hierdie boom het wel blare gehad, maar geen vrugte nie. Dit het op die geestelike toestand van Israel gedui. Hulle was as God se volk al lank in hulle land gevestig, maar nog steeds geestelik onvrugbaar. Jesus het die boom vervloek en gesê: “Laat daar tot in ewigheid (letterlik vir ‘n hele aioon) nie vrugte uit jou kom nie.” Die woord aioon verwys soms na ‘n afgebakende tydperk, soos ‘n bedeling. In Matt. 24:3 vra die dissipels vir Jesus wat die teken van sy koms en van die einde van die bedeling (aioon) is. Die meeste Engelse Bybels vertaal aioon hier as age, (what will be the sign of Your coming, and of the end of the age?). Hier word dus na die einde van ‘n bedeling verwys, en nie na die einde van die wêreld, soos in die Afrikaanse vertaling nie. Die vyeboom sou nie vir altyd nie, maar tot aan die einde van die bedeling tussen Christus se eerste en tweede koms, onvrugbaar bly. Die woord aioon word ook in 1 Kor. 10:11 gebruik, waar Paulus sê: “Al hierdie dinge het [Israel] oorgekom as voorbeelde en is opgeskryf as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue (aione) gekom het.”

In Lukas 13 is daar ook ‘n gelykenis van ‘n onvrugbare vyeboom wat na Israel verwys: “En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap” (Luk. 13:6-9).

Hierdie boom was in die Here se wingerd (dit is die land Israel) geplant, maar het nie vrug gedra nie. Die drie onvrugbare seisoene verwys na die geestelike bearbeiding deur Jesus in Israel gedurende die drie jaar voor sy kruisiging, waarteen die volk hulleself verhard het. Daarna is hulle nog een seisoen lank onder die bediening van die apostels en die vroeë Christelike kerk gespaar, maar sonder enige sukses. Deur die vermoording van Stefanus (Hand. 7) het Israel se leiers die vroeë Christelike kerk summier verwerp en probeer uitwis. Voor sy dood het Stefanus die volk in die beskuldigdebank geplaas, aan herhaalde rebellie teen God skuldig bevind, en sodoende as volk aan verwerping en veroordeling oorgegee. In beginsel het hy die seël op die verwoesting van Jerusalem en die verstrooiing van Israel geplaas, wat in 70 n.C. gebeur het.

In die jaar 70 n.C. is die Romeine gebruik om hierdie vyeboom af te kap en sy takke oor die aarde te verstrooi. Die boom se wortel het egter in die grond oorgebly, en dit is hierdie wortel wat nou weer met Israel se nasionale herstel begin uitloop en groei het. Die feit dat die vyeboom sedert 1948 weer bot, is ‘n vaste aanduiding dat die somer van God se koninkryk naby is. Waarom sê die Here Jesus: “Kyk na die vyeboom en al die bome…?” Die vyeboom (Israel) is die groot teken van die eindtyd, daarom word dit as ‘n aparte teken uitgesonder. Ander volke (bv. die Arabiere) kom ook sterk as etniese eenhede na vore, maar Israel se herstel is die belangrikste teken. Kyk ook na die groot aantal volke in Afrika wat ná Israel se herstel in 1948 onafhanklike nasies geword het. Die somer van God se geopenbaarde koninkryk in die millennium is beslis nou naby.

Die Here Jesus verbind die eindtydse herstelproses van Israel aan ‘n geslag. ‘n Totale geslag verteenwoordig volgens Ps. 90:10 ‘n periode van 70 jaar en ‘n volwasse geslag ‘n periode van 40 jaar. Politieke en geestelike volwassenheid word in Israel op 30-jarige ouderdom bereik, daarom is die jare tussen 30 en 70 die volwasse jare. ‘n Volwasse geslag word gewoonlik deur die Here vir sy dade aanspreeklik gehou en ook gestraf. Die laaste totale geslag van 70 jaar voor die wederkoms van Christus het met die geboorte van die moderne staat van Israel in Mei 1948 ‘n aanvang geneem, en die laaste volwasse geslag 30 jaar later, net voor die herstel van Jerusalem as Israel se hoofstad in 1980.

Die gelykenis van die vyeboom wat net ná Christus se eerste koms afgekap is en kort voor sy wederkoms weer begin bot en groei, word deur talle profesieë oor die historiese verstrooiing en eindtydse herstel van Israel ondersteun. Moses het in ‘n vroeë stadium al aan die volk gesê dat die Here hulle weens hulle volgehoue goddeloosheid onder al die volke sou verstrooi, van die een einde van die aarde tot by die ander einde daarvan (Deut. 28:64). Dit verwys nie na Israel se Assiriese en Babiloniese ballingskap in Ou Testamentiese tye nie, maar na hulle internasionale verstrooiing wat ná hulle verwerping van die Messias in die eerste eeu plaasgevind het. Dit sou egter nie ‘n permanente toestand wees nie, want Moses het ook na die herstel uit hulle wêreldwye ballingskap verwys: “Dan sal die Here jou God jou lot verander en Hom oor jou ontferm; en Hy sal jou weer versamel uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het” (Deut. 30:3).

Die meeste van Israel se profete het na die volk se ballingskap én herstel verwys. Jeremia het gesê: “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde” (Jer. 31:10). Esegiël sê: “So spreek die Here HERE: Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17). Israel se land is nooit Palestina genoem nie, daarom bring die Here hulle nie na Palestina toe terug nie, maar na Israel toe. Palestina kom van Felistia af, wat die land van die Filistyne is (vgl. Joël 3:4). Soos Israel se antieke vyande, eis die moderne Palestyne ook die land op en noem dit Palestina. Die tweestaat-oplossing van Israel en Palestina langs mekaar druis teen God se raadsplan in (Joël 3:2). Die land Israel is deur die Here aan Israel as ‘n ewige besitting gegee en mag nie verdeel word nie.

Jerusalem

Lukas 21 verwys nie net na die bot van die vyeboom aan die begin van die laaste geslag nie, maar ook na Jerusalem wat vertrap sou word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is (Luk. 21:24). Jerusalem is die kern van Israel se politieke en godsdienstige lewe, daarom was gebeurtenisse in hierdie stad nog altyd van baie groot profetiese betekenis. In die toekoms gaan daar nog groot en wonderlike openbarings van die Here in Jerusalem plaasvind, maar voor die tyd gaan die grootste oorlog van alle tye in Israel, en spesifiek rondom Jerusalem, uitbreek – dit is die slag van Armagéddon. Waarom is dié stad so belangrik?

Jerusalem is deur God genoem: “Die stad wat Ek vir My verkies het om my Naam daar te vestig” (1 Kon. 11:36). Nadat Salomo die tempel gebou het, het die Here gesê: “Ek het hierdie huis wat jy gebou het, geheilig deur my Naam daar te vestig tot in ewigheid” (1 Kon. 9:3). God se Naam is vir ewig aan Jerusalem verbonde.

Die Here het Homself deur die diens van die priesters en profete aan die volk geopenbaar. Sy grootste openbaring aan Israel én die hele mensdom het egter met die koms van sy Seun, Jesus, na die aarde plaasgevind. Hy was bestem om die Koning van Israel te wees en van Jerusalem die stad van die groot Koning te maak (Ps. 48:2-3). Die engel Gabriël het aan Maria gesê: “Jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Luk. 1:31-32).

Die Here Jesus kon egter nie oor ‘n goddelose Israel én ‘n ewe goddelose wêreld regeer sonder om hulle in toorn van sy aangesig af te verdryf en weens hulle sonde te verdelg nie. Hy moes éérs hulle Verlosser wees voordat Hy hulle Koning kon wees. Dit het vereis dat Hy twee keer na Israel en die wêreld moes kom – eers as Verlosser en daarna as Koning.

Tydens sy eerste koms het Johannes die Doper na Hom gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Sy offer aan die kruis was egter terselfdertyd die simbool van Israel se verwerping van Hom as hulle Messias. Hy was diep bewoë oor al die ellende wat Israel deur hierdie onbesonne daad oor hulleself gebring het:

“En toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy daaroor geween en gesê: As jy tog maar geweet het, ja, ook in hierdie dag van jou, die dinge wat tot jou vrede dien! Maar nou is dit vir jou oë bedek. Want daar sal dae oor jou kom dat jou vyande ‘n skans rondom jou sal opwerp en jou omsingel en jou van alle kante insluit. En hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter; en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die gunstige tyd toe God jou besoek het, nie opgemerk het nie” (Luk. 19:41-44; vgl. Luk. 21:20-22).

God het Homself deur sy Seun aan Jerusalem se inwoners geopenbaar, maar hulle het dit ten spyte van talle duidelike Messiaanse profesieë nie raakgesien nie, en Hom verwerp. Die Here Jesus is nét buite Jerusalem by Gólgota, in die steengroewe van Salomo, gekruisig. Hier is die plaasvervangende offer vir die sondes van ‘n verlore mensdom aan God gebring.

Veertig dae ná sy opstanding het Jesus van die Olyfberg af na die hemel opgevaar, en nét voor dit die opdrag van wêreldevangelisasie aan sy dissipels gegee. Die uitvoering hiervan kon egter nie begin voordat nóg ‘n belangrike heilsgebeurtenis in Jerusalem plaasgevind het nie:

“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49).

Dit was die belofte van die uitstorting van die Heilige Gees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Op pinksterdag, toe die Heilige Gees oor die dissipels uitgestort is, het die proses van wêreldevangelisasie begin. Op daardie dag is drieduisend siele gered en is die kerk van Jesus Christus in Jerusalem gebore. Daarvandaan sou die boodskap in die hele wêreld verkondig word, van Jerusalem af en verder…

Die groot vraag is: Was die rol van Jerusalem as ‘n plek van godsopenbaring hiermee vervul en uitgedien? Wat van die Here se besluit dat Hy sy Naam vir ewig in Jerusalem sou vestig? Het dit tot ‘n einde gekom toe Israel vir Jesus verwerp en laat kruisig het? Beslis nie! Die langtermyn toekoms van Jerusalem was nog altyd, en is nog steeds, binne God se raadsplan seker en gewis. Daar is baie profesieë oor hierdie stad wat nog vervul moet word.

Israel sou weens hulle ongeloof in verstrooiing gaan, maar nie onbepaald nie, want God se plan met hierdie volk in hulle land en hoofstad, Jerusalem, sal sekerlik na sy heerlike eindbestemming voortgaan. Ná hulle ballingskap onder die nasies sal hulle weer ‘n ontmoeting met Jesus hê, maar dan sal hulle Hom ten volle aanvaar. Hy het vir die ongelowige volksleiers gesê:

“Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat! Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:37-39).

Die Here Jesus kom dus terug na Jerusalem toe, en dan sal Israel Hom aanvaar en met ‘n seëngroet verwelkom. Lukas beskryf die verwoesting van die stad en die verstrooiing van die volk Israel gedurende die eerste eeu deur die toedoen van die Romeinse ryk só:

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word… want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:20-24).

Jerusalem word nie onbepaald vertrap nie, maar net totdat die tye van die nasies vervul is. Aan die einde van die tydperk van wêreldevangelisasie, wanneer die nie-Joodse nasies geleentheid gehad het om in die koninkryk van die Here in te kom, sal Israel, hulle land én hulle stad weer herstel word. Paulus sê: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

In die afgelope tweeduisend jaar het die Here Jesus aan Israel én die nie-Joodse nasies ‘n billike kans gegee om Hom as Verlosser aan te neem. Net ‘n minderheid van hulle het die regte keuse gemaak, omdat die meerderheid steeds die breë pad van sonde verkies. Jesus het gesê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matt. 7:13-14). Presies dieselfde situasie bestaan onder die Jode: “Al is die getal van die kinders van Israel soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word” (Rom. 9:27). Hoewel daar deur die eeue heen klein groepies Jode gered is, sal die hele oorblyfsel van die volk eers gered word wanneer die Messias kom, sodat hulle ook geestelik sy volk kan wees.

Bybelse profesieë maak dit duidelik dat die Here Israel in die eindtyd na hulle land terugbring. Daar sal hulle in benoudheid kom totdat die onbekeerlike meerderheid verdelg en die oorblywende minderheid gered is. “Daarom, so sê die Here HERE: Omdat julle almal skuim geword het, kyk, daarom sal Ek julle binne-in Jerusalem bymekaarmaak. Soos silwer en koper en yster en lood en tin binne-in ‘n smeltoond bymekaargemaak word om daarteen ‘n vuur aan te blaas en dit te smelt, so sal Ek julle bymekaarmaak in my toorn en in my grimmigheid en julle ingooi en smelt… en julle sal weet dat Ek, die Here, my grimmigheid oor julle uitgegiet het” (Eseg. 22:19-22).

Die goddeloosheid in eindtydse Jerusalem sal só erg word dat Israel ‘n verbond met die Antichris sal sluit. Die Here Jesus het gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). In hierdie tyd sal die Here twee spesiale getuies opwek wat in Jerusalem teen die Antichris standpunt sal inneem en die volk teen hierdie misleier sal waarsku. Ná 3½ jaar sal hulle deur die Antichris en sy magte doodgemaak word. Johannes sê: “Hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is” (Op. 11:8).

Jesusalem en sy inwoners, wat nog tot ‘n baie groot mate steeds die Messias verwerp, sal moreel en geestelik verder verval totdat hulle in die middel van die verdrukking die kruin van goddeloosheid sal bereik. Jerusalem sal dan soos Sodom en Egipte wees. Egipte is vir baie lank met afgodediens geassosieer, terwyl Sodom sinoniem met sodomie is. Daar is onlangs groot gay optogte in Jerusalem én ander stede in Israel gehou, en dit is duidelike aanduidings dat die karakter van Sodom vinnig besig is om hier pos te vat. Afgodediens soos in Egipte, sal sy uiterste vorm bereik wanneer die Antichris ‘n beeld van homself in die herboude tempel in Jerusalem laat plaas en alle mense dwing om hom te aanbid.

‘n Groot groep Jode sal tot besinning kom wanneer die Antichris homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4), hulle verbond met hom verbreek en dan vir oorlewing na die woestyn moet vlug (Matt. 24:15-22). In daardie tyd sal baie Jode in die wêreld doodgemaak word. Sagaria sê: “In die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).

Aan die einde van die komende verdrukking van sewe jaar, sal die Here Jesus na Jerusalem terugkom om die oorblyfsel van sy volk, én ‘n oorblyfsel van die nasies, te red (Matt. 24:29-30). “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal… Dan sal die HERE my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Jerusalem, die stad wat deur God verkies is om sy Naam vir ewig daar te vestig, sal ‘n wonderlike nuwe fase betree wanneer die Messias weer kom. Sy inwoners sal geestelik ontwaak:

“Oor die huis van Dawid en die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 12:10; 13:1).

Nadat die volk met die Here Jesus versoen is, sal Hy ook die troon van Dawid in Jerusalem herstel. Hy het nog nooit van die troon van Dawid af regeer nie, maar ná sy wederkoms sal Hy dit wél doen: “Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17; vgl. Amos 9:11-12).

Jerusalem sal ná Christus se wederkoms die wêreld se hoofstad wees. Die Here Jesus sal Koning wees, en vrede sal oral op aarde heers: “In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die HERE; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die HERE in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie” (Jer. 3:17).

Omdat Satan in daardie tyd gebind sal wees, sal hy die nasies nie tot haat, rebellie, oorlogvoering en ander sondes kan aanhits nie. Hulle sal spontaan die Here se guns in Jerusalem soek, asook dié van sy volk Israel, en van harte in sy weë wandel: “So sal dan baie volke en magtige nasies kom om die HERE van die leërskare in Jerusalem te soek en die aangesig van die HERE om genade te smeek… In dié dae sal tien man uit al die tale van die nasies die slip van ‘n Joodse man gryp en dit vashou en sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sag. 8:22-23).

Jerusalem is ‘n belangrike simbool van God se bemoeienis met die mens. Die feit dat Jerusalem se vertrapping deur die nie-Joodse nasies verby en die stad in ‘n gevorderde stadium van herstel is, is ‘n vaste bewys dat ons in die laaste geslag voor Christus se wederkoms is. “As hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Luk. 21:28). Wanneer groot benoudheid oor Israel en Jerusalem toesak, moet ons enige tyd die stem van die Bruidegom verwag.

Ná die verdrukking sal ons saam met die Koning na Jerusalem terugkeer om sy finale oorwinning te oor die magte van die duisternis in dié stad te aanskou waar Hy eens verag en gekruisig is. Ons moet ernstig vir die vervulling van die baie profesieë oor die toekoms van die Stad van die Groot Koning bid. God het gesê: “o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7).

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s