Rut, die Moabitiese Vrou

Die geskiedenis anale van die Moabiete getuig van immoraliteit, verleiding, seksuele lus en bloedskande.

Die nasie is gebore na die vernietiging van Sodom en Gomorra uit ‘n bloedskandelike verhouding tussen Lot en sy oudste dogter (Genesis 19). Die Moabiete en Ammoniete is Lot se afstammelinge en beide die nasies het ‘n soortgelyke geboorte en geskiedenis. Daar word ook dikwels na hulle gesamentlik verwys as die oorsaak van Israel se ontrou teenoor die Here.

Dit was Balak, die koning van Moab, wat Bileam gehuur het om die Israeliete te vervloek. Toe dit nie gewerk het nie, het Bileam die Moabitiese vroue opdrag gegee om die Israelitiese mans te verlei, sodat hulle die vroue se afgode sou aanbid. Op daardie wyse sou hulle God se oordeel oor die kinders van Israel verseker (Openbaring 2:14). As gevolg hiervan is vier en twintig duisend Israeliete in ‘n plaag dood (Numeri 25:9) en is die Moabiete vir ewig vanuit die samekoms van die Here se volk verban.

‘n Paar honderd jaar later het Salomo met onder andere Moabitiese vroue getrou (1 Konings 11:2). Weereens het hierdie vroue ook vir Salomo verlei om hulle valse gode te aanbid en vir hulle hoë plekke daar te stel (1 Konings 11:7). Salomo se verhouding met die afstammelinge van Lot, en sy gevolglike aanbidding van hulle afgode, was die direkte oorsaak van die skeuring van die koninkryk en die totstandkoming van die noordelike (Israel) en die suidelike (Juda) stamme (1 Konings 11:32-34).

Weereens het ‘n verbintenis met die afstammelinge van Lot tot die ondergang van Israel gelei. En weereens het Moab dieselfde verleiding van Lot se dogters en Bileam gebruik om Israel tot die aanbidding van afgode te verlei en sodoende die toorn van God opgewek. Geen wonder dat die Here hulle vir ewig vanuit die samekoms verban het nie.

In die boek van Nehemia lees ons van Sanballat, die Goroniet en Tobija, die Ammoniet (Nehemia 2:10). ‘n Goroniet kom van die Moabitiese stad Goronajim (Jeremia 48:3-4). Weer het die Moabiete en die Ammoniete die ondergang van Israel gesoek. Sanballat het elke moontlike skelmstreek probeer om Nehemia sover te kry om sy werk te laat vaar. Toe bespotting, aanvalle en afpersing nie werk nie, het hulle weereens hulle gewend tot die ou en beproefde skelmstreke.

Net soos wat Moab by vorige geleenthede gedoen het, het Sanballat probeer om Nehemia in ‘n onheilige samewerkingsooreenkoms in te lok (Nehemia 6:2). Gelukkig het Nehemia deur hulle plan gesien en het hy geweier om selfs die vyand te ontmoet. Toe dit nie werk het die Moabiete probeer om Nehemia tot sonde te verlei deur hom die tempel te laat ingaan (Nehemia 6:11), met die hoop dat God Nehemia sal oordeel net soos wat hy die kinders van Israel geoordeel het. Dit het ook nie gewerk nie.

Maar net toe dit lyk of die Moabiete in hulle verleiding gaan misluk, lees ons dat heelwat van die Israeliete met Moabitiese en Ammonitiese vrouens getrou het (Nehemia 13:3, 23). Weereens sou hierdie gemengde massa die waardes van God se volk so verlaag dat baie van hulle kinders nie meer die taal van Juda sou praat nie, aangesien hulle die taal en gebruike van die indringers aangeneem het (Nehemia 13:24).

Selfs nog erger, die Hoëpriester se seun het met Sanballat (die Moabiet) se dogter getrou. Weer en weer sou Moab die geleentheid vind om die volk van God te infiltreer en hulle weg te lok daarvan om Yahweh te dien. Gelukkig was Nehemia deurentyd op die uitkyk en het hy elke voorval van korrupsie gepas hanteer: “Ek het met die mense geraas, hulle vervloek, party van hulle geslaan, hulle hare uitgetrek en hulle voor God ‘n eed laat aflê: “Julle sal julle dogters nie laat trou met die heidene se seuns nie en hulle dogters nie met julle seuns of met julleself nie. Dit was tog hiermee dat koning Salomo van Israel gesondig het! Onder die groot nasies was daar nie ‘n koning soos hy nie. Sy God het hom liefgehad en hom koning laat word oor die hele Israel, maar vreemde vrouens het ook vir hom laat sondig. En nou moet ons hoor dat julle hierdie groot kwaad begaan het en ontrou aan ons God geword het deur vreemde vrouens te trou!” (Nehemia 13:25-27).

Toe Nehemia dit egter gewaag het om sy rug te draai, het die Hoëpriester sover gegaan as om ‘n kamer in die tempel te ontruim sodat Tobija, die Ammoniet daar kon intrek. Die Hoëpriester het een van die leiers van die Ammoniete, en ‘n vyand van Israel, tot in die tempel gebring – en dit in omstandighede waar hulle nie eers toegelaat is om onder die volk van die Here te woon nie, wat nog te sê van in die tempel!

Kan jy sien hoe die vlees en die vyand elke geleentheid gebruik om die kerk en die lewe van die gelowige binne te dring? Ons kan en mag nie toelaat dat hierdie dinge die geringste rede kry om ‘n vastrapplek in ons lewens te kry nie. Hulle het net een oogmerk – en dit is om die volk van God te vernietig.

Die geskiedenis van Moab, wat deurentyd die vernietiging van Israel gesoek het, loop soos ‘n draad deur die hele geskiedenis van Israel in die Beloofde land, vanaf die uittog uit Egipte, tot by Israel se hoogtepunt en daarna ook tot by die terugkeer vanuit ballingskap. Die verleiding, planne en infiltrasie het onophoudelik voortgeduur.

Maar reg in die middel van hierdie verhaal vind ons hierdie vrou: “Rut, die Moabitiese vrou” (Rut 2:2).Sy het nie net in Israel kom woon nie, maar sy het ook met ‘n prominente en vooraanstaande Hebreër getrou. En asof dit nie genoeg was nie, is sy ook die groot-grootmoeder van koning David en in die voorgeslag van Jesus (Matteus 1:5). Waarom het God so-iets toegelaat as Hy alle Moabiete vanuit die samekoms van die volk verban het? Rut het sekerlik dieselfde gevaar ingehou vir die welstand van die mense as enige ander Moabiet en sy moes daarom tog saam met hulle veroordeel word?

Nee. Weereens het ons ‘n bewys van God se ontsaglik groot en onfeilbare genade. Rut het haar mense versaak en ook haar gode. Sy het onvoorwaardelik die Here en Sy volk aangekleef (Rut 1:16-17). Die oomblik toe Rut na die Here gedraai het, het Hy haar ontvang en haar verlede vergewe. Hy het ook die vervloeking wat oor haar gehang het, verwyder. Maar die Here het haar nie net aanvaar nie. Hy het haar ook ingesluit en haar gebruik asof sy nog altyd ‘n Israeliet was. Dit was asof haar verlede en haar voorgeslagte nie bestaan het nie.

Op dieselfde wyse ontvang die Here steeds enige persoon wat in opregtheid na Hom draai en wat hulle rug op hulle afgode en verlede draai. Hy ontvang ons sonder enige voorbehoud, Hy vee ons verlede weg en verwyder die vervloeking waaronder ons staan. Net soos Rut, laat Hy ons nie net toe om in die seëninge van Sy kinders te deel nie, maar Hy gebruik ons selfs en sluit ons volledig in by Sy werk en plan. Hy behandel ons asof ons nog altyd Sy kinders was en asof daar nooit ‘n tyd was wat ons Sy vyande was en van Sy teenwoordigheid uitgesluit was nie.

Hoe wonderlik is die Genade nie! Rut is nie meer ‘n Moabitiese vrou nie, maar sy is ‘n voorsaat van die Here Jesus! Op dieselfde wyse hoef jy nie meer as ‘n sondaar, verslaafde, misbruiker of wat jy ook al voorheen was, bekend staan nie en mag jy Sy Naam dra – Christen.

deur Anton Bosch | vertaling deur Annamarie vd Merwe

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s