Mense wat graag uitdeel, ontvang altyd meer. Daar is ander wat suinig is en hulle word arm.
Spreuke 11:24 NLV
Jesus het sy dissipels geleer om die verspreiders van sy seën te wees en eerste op diegene wat in nood is, te reageer. Dis hoekom Hy hulle by die proses betrek het; Hy het hulle toegerus om Hom in die toekoms te verteenwoordig.
Toe hulle die vyfduisend gevoed het, het die wonderwerk van vermeerdering nie plaasgevind toe die kos Christus se hande verlaat het nie, maar die dissipels se hande. Hy het die vyf brode en die twee vissies geseën, dit vir hulle gegee en hulle het iets wonderbaarliks daarmee gedoen: ‘n magdom mense met ‘n seuntjie se middagete gevoed. Soos hulle dit gedoen het, het hulle die wonderbaarlike ervaar.
Wanneer die Here se seën op dit wat jy het is, sal jy sukses behaal, ten spyte van uitdagings en struikelblokke. God het elkeen van ons iets gegee wat ander mense nodig het. Soms sien ons dit nie raak nie, of ons twyfel aan die waarde daarvan. Dus dink ons: ‘Ek het nie dit wat nodig is nie.’ Jy doen – dis nog net in saadvorm! Jesus het dit as volg beskryf: ‘…eers kom die eerste blaartjie uit, dan vorm die aar en uiteindelik sit die volgroeide koringkorrel in die aar’ (Markus 4:28 NLV).
God het iets in jou geplaas wat Hy wil hê jy moet herken, koester en tot sy verheerliking moet gebruik. Wanneer Hy dit seën, sal jy verbaas staan oor die onderontwikkelde potensiaal wat jy nog altyd met jou saamgedra het.
Die wonderwerk het begin toe die seuntjie voor ‘n behoefte te staan gekom het en besluit het: ‘Hierdie mense is honger en het kos nodig.’ Dis ook toe dat die dissipels ontdek het wat Jesus met dit wat hulle gehad het, kon doen, selfs al het dit hopeloos onvoldoende gelyk. Die woord vir jou vandag is – gebruik wat God jou gegee het!
deur Bob & Debby Gass | Radio Kansel