Geloof onwankelbaar

1… Hulle moet onwankelbaar in die Here glo.

Dit gaan nie so goed met Danie nie:

Die laaste maand bevind ek myself in ‘n baie donker deel van my lewe. Dis ‘n daaglikse struweling om net deur elke dag te kom, storms wat in my woed, eensaamheid en die totale gevoel van verswelging en nie weet wat voorlê nie.

Soggens word ek wakker en ek voel amper terneergedruk – ek het wakker geword, ek is nog hier, hoekom het daar nie maar ‘n einde aan alles gekom nie.

Daar is niks unieks aan my situasie nie. Dit gebeur elke dag regoor die wêreld met soveel ander mense en soveel te meer nog erger dinge met ander mense. En tog, as dit met jouself gebeur waar jy op 47 ingelig word jou dienste word nie meer benodig nie en jy staar deur die donker tonnel van werkloosheid voor jou uit, voel dit of jou hele wêreld in duie stort.

Hoe gaan ek vir my familie sorg, hoe gaan ek ‘n dak oor hulle kop hou, klere aan hulle lywe, kos in hul mae, beskut teen die koue? Ineens, soos ‘n damwal wat breek, word jy meegesleur deur al die vrae en voel letterlik of jy in totale magteloosheid verdrink.

Maar dis nie net die gewone storms in die lewe nie. Dit gaan ook nie altyd lekker met hom en God nie:

My verhouding met God is ‘n daaglikse stry en baklei, amper soos ‘n pa en sy beterweterige tienerseun. ‘n Tienerseun wat teen alles skop wat sy pa vir hom sê en ‘n Pa wat weet wat die regte dinge is om te doen. ‘n Tienerseun wat sy eie kop wil volg en maak net soos hy wil.

Ons almal gaan een of ander tyd deur soortgelyke seisoene. Seisoene waar dit voel alles teen ons is. Dis die een krisis na die ander. Dit voel of selfs God Sy rug op ons gedraai het.

Ek leer baie by Danie se hantering van die krisisse in sy lewe:

Tans vind ek vertroosting in die wete dat die Here ‘n plan met my lewe het, en gehad het, van nog lank voor selfs my grootouers geleef het. Hy het geweet ek gaan eendag hier sit, verlate, verward.

My vertroosting lê in die wete dat God nog lank nie klaar geskryf het aan my boek nie. Hierdie deel van my lewe is maar een net een hoofstuk wat gevolg word deur ‘n volgende.

Selfs al voel dit vir Danie dat God vir eers stil is, hou hy steeds vas aan sy geloof in sy Skepper. Hy glo dat God vir Hom een of ander tyd sal deurkom. Al maak alles nie nou vir hom sin nie, weet hy dat die hoofstuk een of ander tyd klaar geskryf gaan word. Hy glo dat ’n volgende, beter hoofstuk net om die draai lê, want sy God bly in beheer.

Maak nie saak hoe woes die winde om ons waai nie. God sal ons nie alleen los nie. Maak nie saak hoe groot die storms om ons waai nie, God sal ons hande altyd styf vashou.

Dankie vir die les, Danie. Ons geloof in God moet waaragtig onwankelbaar wees.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Hoe dik is jou geloof?
Deurstaan dit die toets van die storms?
Hoe kan jy anders?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat my geloof soms ’n bietjie dun is. Help my om meer aan U vas te hou, veral as dit nie so maklik is nie. Amen.

Shalom
Gerjo Ben | Kruispad 247

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s