Promotor van goeie goeters

’n Kind van God 8… is lief vir wat goed is (1983-vertaling). Christene word aangetrek deur goeie goeters. Maar meer nog, hulle jaag goeie dinge met alles in hulle na. Dit werk soos ’n magneet. Dinge wat goed is trek hulle aan.

Dit veronderstel natuurlik dat negatiewe dinge hulle wegstoot. Slegte goeters laat walg en wil hulle laat weghardloop daarvan. Ten sterkste, staan kinders van God op teen die slegte dinge in die lewe.

Of doen ons?

Staan ons op teen al die onreg wat mense aangedoen word? Is ons bereid om te stop en ander te help wat onregverdig behandel te word?

Ek sien op Facebook ’n kringtelevisie-video van ’n vrou wat daar in Muizenberg rustig op die sypaadjie stap. ’n Motor stop langs haar. Die een gryp haar sak. Die ander probeer haar selfoon afvat. Daar is ’n gestoeiery. Uiteindelik het die man die foon, spring in die kar en jaag weg. Geskok en moedeloos gaan sit sy op die randjie van die sypaadjie.

Nog erger vir my, is die een na die ander kar wat net verbygery het. Nie een aangeraak deur die onreg om net te stop en te help nie. Te besig op pad om hulp te verleen …

Êrens sal ons moet help dat die goeie dinge weer eerste in die ry van die lewe staan. Êrens sal ons moet begin opstaan en agter die regte dinge aanloop, sodat die wêreld ons kan volg en sien hoe ’n mens die goeie doen.

Die Griekse woord philagathos word hier vertaal met promoter of virtue. Ons moet promotors van goeie dinge wees. Die woordeboek sê dat ’n promotor gewoonlik alles doen om ’n sukses te maak van mense of ’n byeenkoms of ’n besigheid. So ’n persoon sit al sy energie in om seker te maak dat daar nêrens haakplekke is nie. Sukses staan orals geskrywe.

En dit is ons elkeen se taak. Ons moet die promotors van goeie dinge wees. Ons moet al ons energie insit om seker te maak dat die mense om ons aan die regte dinge blootgestel word. As ons dit nie doen nie, waar gaan hulle dit dan sien? Want in die wêreld lyk dit baie anders.

Wanneer ons lief is vir dinge wat goed is, wanneer ons die goeie dinge in die lewe najaag en dit doen, sal die mense om ons ook lus begin raak om dit te doen.

Kom ons neem hande en beywer ons om die regte dinge te doen. Saam kan ons ’n verskil maak. Werklik!

Hier in ons woonbuurt het die mense begin saamstaan. Daar is ’n groepie gestig waarop almal lekker praat. Waag ’n potensiële skurk dit om net sy voete hier in ons strate neer te sit, gons die mens op die groep. En binne sekondes is die sekuriteitsmotors op die toneel.

Vir seker het die misdaad afgeneem. Hoekom? Want almal staan saam en doen iets. Almal neem deel as promotors van veiligheid.

So moet ek en jy promotors wees van goeie goeters. As ons almal dit doen, sal die wêreld vir seker ’n beter plek wees.

Teks
Tit 1:6-10

Om oor na te dink
Waar moet jy begin met goeie dinge?
Hoe moet jy dit doen?
Vir wie?

Gebed
Here, help my asseblief om nie so veel op myself gefokus te wees dat ek nie die nood rondom my raaksien nie. Help my om geleenthede raak te sien om goed te doen, en die durf en die krag te hê om uit my gemaksone te klim om op te staan vir wat reg is. Amen.

Shalom
Gerjo Ben | kruispad 247

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s