Verlange (Omgee) vir ander

Die eerste ou by wie ek ’n afspraak gaan maak as ek in die hemel kom, is Paulus. Ek het soveel waardering vir hom – seker omdat ek so baie van myself in hom sien. Seker omdat hy hierdie rowwe diamant was en alles ‘full box’ het. Maar veral ook omdat hy ander mense met soveel passie liefgehad het. Met alles in hom beur Paulus voort om die evangelie uit te kry by die mense wat op pad is om oor die afgrond van die dood te tuimel.

Vir wildvreemdes het sy hart van liefde oorgeloop. Dis asof Jesus se hart in sy hart oorgeplant is. Hoor hoe sug sy hart: 17 My liewe broers en susters, ons was skaars weg daar by julle, toe begin ek al na julle verlang. Julle was die hele tyd in my gedagtes. Later het ek so baie aan julle gedink dat ek besluit het ek moet julle eenvoudig weer sien.

Dit klink soos ’n liefdesbrief tussen twee verliefde tieners. Elke oomblik van die dag dink Paulus aan die mense van Tessalonika. Paulus maak gretig planne om by sy geliefdes uit te kom. Hy wil hulle help. Hy wil hulle meer leer oor God se Woord. Hy wil hulle help met die vaste kos van die evangelie, sodat hulle op hulle eie voete kan staan.

Sien jy die passie in Paulus? Sien jy hoe brand die liefde in hom vir sy medegelowiges, maar ook vir die mense wat van die pad af is? Hy laat geen klip onaangeraak om daar by hulle uit te kom nie. Ek hoop ek het dieselfde hart vir ander mense.

Ek besef maar net weer dat die lewe dikwels net oor die eie ek gaan. Ons eie leertjie van sukses of belange is dikwels belangriker as om ander mense op te help. Dalk is ek ’n bietjie reguit hier, maar is dit nie maar hoe die prentjie van ons lewe lyk nie? Ander mense is eintlik in die pad en altyd ontydig op soek na aandag, tyd, energie, liefde…

Dis eintlik nie nodig om eers te wag vir ’n afspraak met Paulus om uit te vind hoekom hy so ’n passie vir ander mense gehad het nie. Dit is eintlik voor die hand liggend. As ’n mens toelaat dat die Heilige Gees jou hart verander, loop alles anders. Dan skuif die eie ek opsy en is jou medemens al wat in jou visier is. Dan maak jy graag planne om ander te help.

En dis wat ons elkeen moet doen. Ons moet toelaat dat die Heilige Gees ons hart verander. Ons moet toelaat dat ander se behoeftes swaarder druk as ons eie.

Ek het dit nou die aand reggekry. Ek is in die fliek. Dis so 10 minute voor die einde. Die spanning loop dik. Ek sien die liggie van my foon gaan aan. Dis ’n vriend van my wie se ma op sterwe lê. Ek wik en weeg. Ek kan mos na die fliek terugbel. Gelukkig woel die Heilige Gees in my hart en ek staan op.

Ek was dankbaar om my vriend te kon help waar sy ma pas haar laaste asem uitgeblaas het.

Net jammer dat die dinge nie altyd so uitwerk nie: 18 Ek het toe begin planne maak om weer in Tessalonika uit te kom. Weet julle, ek het hard probeer om na julle toe te kom, maar Satan het elke keer ’n stokkie voor my planne gesteek.

Selfs wanneer ons goed wil doen, is daar kere wanneer daar ’n stokkie in die wiele kom. Weet dit en berei jouself voor. Maar moenie dat dit jou mismoedig maak nie. Laat toe dat die verlange jou ook dring, soos vir Paulus, om ’n verskil in iemand anders se lewe te maak.

Teks

1 Tessalonisense 2:17-20

Om oor na te dink

Wie is in jou visier?

Hoe kan jy meer vir ander doen?

Moet jy weer probeer?

Gebed

Here, ek bely dat ek te voor in die ry staan. Die meeste van die tyd gaan net oor myself en dan sien ek nie eintlik ander en hulle nood raak nie. Kom woel in my hart, sodat ek soos Paulus alles wil en sal doen om ander te help. Amen.

Teksgedeelte: 1 Tessalonisense 2​

17 My liewe broers en susters, ons was skaars weg daar by julle, toe begin ek al na julle verlang. Julle was die hele tyd in my gedagtes. Later het ek so baie aan julle gedink dat ek besluit het ek moet julle eenvoudig weer sien. 18Ek het toe begin planne maak om weer in Tessalonika uit te kom. Weet julle, ek het hard probeer om na julle toe te kom, maar Satan het elke keer ’n stokkie voor my planne gesteek.

19 Ek is verskriklik trots op julle, want ek weet julle is op pad na God se nuwe wêreld. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus terugkeer, sal my hart oorloop van blydskap as ons voor Hom staan. Julle sal die bewys wees dat ek my werk vir die Here goed gedoen het. Dan sal ek nie my kop in skaamte hoef te laat sak nie. 20Ek sal trots vir Christus kan sê dat julle voluit vir Hom geleef het. Ek kan nie genoeg vir julle sê hoe bly ek oor julle almal is nie.

Gerjo Ben | bron : ousus

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s