Vertrou God as Hy nee sê

 

Olivia Botha

Olivia Botha het geleer dat God se nee altyd baie belofte inhou, vir iets beters! Haar drome sou nooit waar geword het as Hy ja gesê het nie…

Olivia Botha het geleer dat God se nee altyd baie belofte inhou, vir iets beters! Haar drome sou nooit waar geword het as Hy ja gesê het nie…

My hart het in my keel geklop. Ek en my broer het oorkant my pa gesit. Drie jaar tevore was ek op presies dieselfde plek. Nou het ek teruggekom, soos my pa gesê het ek moet. Hoekom was ek so benoud? Ons het klaar gepraat, en het gewag om te hoor wat hy gaan sê.

“Ek hoor,” het hy die stilte verbreek. “Maar ek kan ongelukkig nie julle al twee help nie. Olivia, ek kies om jou broer te help. Ek sal vir sy studies betaal. Ek kan jou nie help nie. Jammer.” Net dit. Jammer.

Ek het nou die dag weer na die heel eerste prentjie gekyk wat ek geteken het. Wat my laat besluit het om op elf te begin teken, weet ek nie regtig nie. Dalk was ek net nie lus vir huiswerk nie? My ma was mal oor haar kind se kunswerk – watter ma sal nou nie wees nie? Sy het dit trots uitgestal. Kort voor lank wou een van haar vriendinne ook ’n prentjie hê. En nog een, en nog een, en nog een… Voor ek my kon oë uitvee, was daar bestellings van oral af!

Die res van my skoolloopbaan het hoofsaaklik uit prentjies maak bestaan. Soms moes ek elke week ’n dag stokkiesdraai sodat ek al die agente se bestellings kon klaarmaak. Intussen het ek daarvan gedroom om joernalistiek te gaan studeer. My lewe was vol belofte. Maar toe bars daar ’n lelike bom in my matriekjaar. My ouers is geskei.

Nie een van ons het dit sien kom nie of geweet hoe om dit te hanteer nie. My pa het min of meer aangegaan met sy nuwe liefde en lewe, maar my ma het bitter swaar gekry. Omdat ek probeer vredemaker speel het, het ek dikwels my vingers verbrand. Daar was nie meer vreugde in my hart nie, net ’n diep bekommernis oor die donker gat waarin my ma was.

Ten spyte van haar swaarkry, het my ma my oorreed om vir die ABSA se jong-entrepreneur-kompetisie in te skryf. Een middag het ek sommer op ’n stuk papier geskryf wie ek is en wat ek doen, en een van my prentjies saamgestuur. Toe word ek gekies as een van vyf finaliste in die land. Dit was ’n wonderlike geleentheid, maar ek het gesukkel om dit te geniet. Die gala-aand het nie vir my so blink gelyk soos dit was nie. Die oorsese reis waarop hulle ons geneem het, was net te ver weg van my ma af. Bekommernis en skuldgevoelens het my opgevreet. Ek was bekommerd oor my ma, en ek het skuldig gevoel omdat ek ja gesê het die dag toe my pa my gevra het of dit oukei is as hy van my ma skei… Natuurlik wou ek nie hê hulle moes nie!

Soos die einde van my laaste skooljaar nader gekom het, het al my vriende opwindende planne gehad. Sommige sou gaan studeer, ander was op pad oorsee. Wat sou ek doen?

Ek het my pa by die Roadhouse in Virginia gaan ontmoet. Vandat ons gesin uitmekaar gespat het, was alles vir my vreemd. Ek het nie meer geweet wat ek vir wie mag sê of vra nie. As ek my ma met ’n koppie koffie probeer troos het, sou sy dit sommer teen die muur gooi uit frustrasie teenoor my pa. En wanneer ek probeer mooipraat het met my pa om die vrede te bewaar, sou hy my afjak. Maar vandag moes ek weet.

“Pa,” het ek begin, “al my maats het planne vir volgende jaar. Ek wil net weet… Hoe… Wat gaan met my gebeur?” . . .

Voelgoed Blogs . . .

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s