Wandel met God: ons is almal belangrik vir Hom

deur Louise Gevers

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ‘n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien? U het hom net ‘n bietjie minder as ‘n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon  Psalm 8:4-6

Die Bybel is vol van besondere ontmoetings tussen God en mense soos ek en jy: sommige is ryklik geseën ten spyte van hulle verskriklike omstandighede, ander het hulle, as gevolg van hulle opstand, dwaasheid en trots, God se woede en oordeel op die hals gehaal. Wanneer ‘n mens jou verdiep in die bladsye van die Bybel, is dit fassinerend om te sien hoe die drama van “menswees” voor jou ontvou. Reg van die begin wys God dat Hy baie belang stel in sy skepping, die mens, en dat Hy in ‘n verhouding met hom wil wees.

Ons mag vind dat ons met sommige van die mense wat ons in die Bybel ontmoet, kan identifiseer en ons kan ons voorstel hoe dit sou gewees het in hulle tyd, maar vir sommige van ons blyk hulle ervarings net nie heeltemal moontlik nie; byvoorbeeld Moses wie se gesig blink geword het nadat hy God op die berg ontmoet het, (Eksodus 32:29) of Elia wat gevra het dat vuur uit die hemel afkom (2 Konings 1:12) en wat later nie gesterf het nie, maar in ‘n stormwind na die hemel opgeneem is (2 Konings 2:11); of Jesaja wat gesien het dat die Here op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed die tempel gevul het. (Jesaja 6:1). Alhoewel dit vir ons moeilik mag wees om hierdie individue te verstaan, is van hulle miskien vir sommiges van ons ‘n held of rolmodel.

Miskien is dit makliker om met Jakob wat met God gestoei het te identifiseer (Genesis 32:24-30) of met Petrus wat toe hy bang was. Jesus verloën het (Johannes 18:17) of met nederige Maria wat God met blydskap geprys het: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God, my Verlosser” (Lukas 1:46-47), ten spyte van die wete dat die verstommende nuus wat die engel gebring het, sal beteken dat sy die skande om ‘n buite-egtelike kind te verwag, die hoof moet bied.

God het ons ook gemaak om in ‘n verhouding met Hom te wees, maar Hy is in ‘n ander tyd in die geskiedenis by ons betrokke en Hy stel ons voor ander uitdagings. Die enigste verskil tussen die bybelse karakters en ons, is tyd en plek. God, sy Woord en sy doel vir die mens het nie verander nie. Hy ” … is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid. (Hebreërs 13:8)

Gedurende hierdie maand gaan ons ‘n verskeidenheid manne en vroue uit die Bybel ontmoet en beter leer ken en uitvind wat God se impak op hulle lewens was. Kyk met nuwe oë na hulle, word deur die manier wat hulle God ervaar het, geïnspireer en bemoedig, en vra die Here om dat jy Hom op ‘n nuwe manier in jou eie lewe sal ervaar.

Gebed: Heilige en onveranderlike Vader, dankie vir die impak wat U op die lewens van mense regdeur die geskiedenis en oral in die wêreld het. Help my aseblief om u liefde en doel vir my te verstaan, sodat ek tot in ewigheid ‘n ryk en diep verhouding met U kan hê.  Amen

[b r o n]

Leave a comment