Dis nag in die Laer …

deur Pieter F. Bruwer

Die trekkerlaer staan reeds gekring
hul trekosse en perde ’s ingebring,
lantern aan sweepstok opgehang
’n doringskans voor elk ingang.

Tog steeds bly leef die doodse vrees,
wat wortelskiet in elke man se gees,
elk voel die lem klaar teen sy keel
en wonder is sy lot ook reeds verseël?

Omsingel deur ’n sprinkaanplaag
wat aangevlieg kom vlaag op vlaag op vlaag,
in slagordes, elk met ei’  kleur
die brengers van Dingaan’s terreur.

Hul dink aan Kommandant Retief
aan sy beloftes oor ’n eie grondbrief,
aan al sy hoop op die traktaat-
met ou Dingaan die Zoeloe potentaat.

Aan waarskuwings in wind gestrooi
elk vurige betoog en mooi pleidooi:
“maak geen traktaat met dié barbaar-
dié goddelose heiden-moordenaar.”

Tog is hy vort, vermoed geen onraad,
geen kwaad en geen verradderlike daad,
sou so als vir sy grondbrief waag
maar loop lyn-reguit in ’n hinderlaag.

Bulala abatigati – maak hulle dood
so roep die Zoeloe-koning en despoot,
in plaas van om ’n land te erf
sou hul in bitter pyn en lyding sterf.

En dit was maar net die begin
want hy ontketen toe die wraakgodin,
stuur impi’s om te roof en moor
om man en vrou en kinders uit te moor.

Bloedbeelde skroei die hart en siel:
klein baba’s kop verbrysel teen ’n wiel,
en vroue met assegaai deurboor-
van ou bejaardes by Blaauwkrans vermoor.

Hul ril, dis donker om die laer:
omsingel deur dieselfde doodsgevaar,
die oppermagtige Zoeloeleër
wat hul met vyftienduisend man beleër.

Net vierhonderd teen só oormag:
hul weet dat Zoeloes toeslaan in die nag,
dus is vertwyfeling tasbaar-
mag God hul deur die donker nag bewaar.

Slegs  Hy alleen kan hul nog red:
stil prewel elk  sy eie hartsgebed,
maak vrede met die Heil’ge God-
bely oortredings van Sy Groot Gebod.

Op Waschbank sou hul saam besluit:
hul sou nie kon wen net met roer en kruit,
elk sou hom met God moes versoen-
om saam  ’n Gelofte aan Hom te doen.

Hul staar lank oor die heuwels uit:
en luister bang na elke stil geluid,
sien rooi-oog vuurtjies teen die bult-
daar buite wag hul vyand in ongeduld.

As die bevel tot aanval kom
sal duisend kele saam bloeddorstig grom,
bestorm met assegaai en vuur
herhaaldelik weer, sal deurnag duur.

“Kom  broeders laat ons nou tesaam
vergader in ons Heil’ge God se naam
en dié Gelofte aan Hom maak:
as Hy ons red uit hierdie nag van wraak,

ons vyand in ons hand sal gee
sal ons die eer en roem net aan Hom gee,
sodat Sy naam verheerlik word
en hierdie dag vir ons tot Sabbat word.

Hul bly die heelnag waak en bid
God laat die Zoeloe impi’s doodstil sit,
so sou Yahweh hul veilig hou
en in Sy groot genadetent toevou.

Met eerstelig het hul geweet
hul is nie in lewensnood versaak, vergeet,
God is waaragtig groot en trou-
die rots waarop ons volk sy vryheid bou.

Selfs toe die slag uiteindlik kom
was dit ’n wonderwerk direk van Hom,
geen haar is op hul hoof geskaad-
Gods liefdesdaad oorwon Dingaan se haat.

(Ons kinders moet dié wete deel:
ons volk is deel van God se tafereel,
en waar só nag weer oor ons daal –
behou geloof bly veg met God se staal.)

Advertisements

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s